Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Chris van Wyk van Port Elizabeth skryf:
Ek sal graag by Kobus Myburgh (“Kom reis saam met Romeine 1”, Kerkbode, 15 April) die volgende wil hoor:
Hoekom ignoreer jy die feit dat in die Grieks-Romeinse wêreld “lovers” die mees algemene selfdegeslagverhoudings was, soos dit trouens vandag nog is?
Hoekom ignoreer jy die feit dat persone aangetrokke tot dieselfde geslag wettig kon trou in daardie tyd, soos dit nou ook by ons die geval is met burgerlike verbintenisse?
Daar was onteenseglik permanente selfdegeslagverhoudings in Rome wat in liefde en trou gesluit is. Sien John Boswell en ander se uitstekende navorsing hiervoor.
Jou verbeelde voorbeelde in jou stuk ignoreer egter dié feite. Jy beskryf net dié voorbeelde wat met misbruik verband hou. Nero was byvoorbeeld twee keer getroud met mans in die presiese tyd, die vyftigerjare van die eerste eeu, wat Paulus in sy briewe aan die gemeente in Rome geskryf het.
Hoekom haal jy dié historiese feit nie aan in jou verbeelde konteks van die brief nie?
Eksegeties is dit tog so dat Paulus in Romeine 1 ’n algemene uitspraak maak oor mans wat met mans seks het, en vroue wat met vroue seks het. Sonder enige verwysing na oriëntasie of permanensie, al dan nie.
Alle selfdegeslag-seksuele gedrag word afgewys, sonder uitsondering. Dít is tog dié verklaring van die teks wat ons verstaan en toepassing daarvan moet bepaal. Dan nie?
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
