Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kom reis saam met Romeine 1

In die kerklike gesprek oor gay-verbintenisse word Romeine 1 dikwels beskou as een van die sleuteltekste. Hier is twee verskillende perspektiewe op die saak as deel van Kerkbode se gay-debat.

Lees ook Chris van Wyk se bydrae: Paulus draai nie doekies om nie.


Ek wil hê jy moet dit vandag waag om saam met my op ’n reis deur tyd en ruimte te gaan. Vir hier­die reis het jy net ingeligte verbeelding nodig.

Verbeel jou jy is in Rome. Dit is 57 nC. Jy sit in Priscilla en Akwila se huis. Titus is besig om die brief voor te dra wat sopas van Paulus af gearriveer het. Jy hoop hy het iets te sê oor die moeilike situasie wat nou in die gemeente heers. Dis nou al twee jaar dat jy terug is in Rome nadat Nero Claudius se dekreet wat Jode uit Rome verban het, herroep het. In die tyd wat die Jode weg was, het alles in die gemeentetjies in Rome verander. Dit voel asof die Joodse wortels van die geloof totaal geïgnoreer word. Grieke en Romeine moet tog eers soos Jode word om deel van Jesus se volgelinge te wees. Paulus is mos ’n Joodse Rabbi, hy sal die saak sekerlik regstel.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/04/Kobus-Myburgh-1.jpg” caption=”Dr Kobus Myburgh is leraar van die NG gemeente Wierdapark in Centurion en behartig die kerkeie onderrig in Nuwe Testament by Tukkies.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Die eerste deel van die brief laat jou al klaar sien wat Paulus se oplossing is. Hy ontken nie die verskille tussen Jode en Grieke/Romeine nie, maar laat jou verstaan dat beide groepe saamgebind is in Christus Jesus. Jy kom onder die indruk van God se groot genade wat almal wat met hulle hele wese op Hom vertrou, deel van sy mense maak (Rom 1:16-17).

Maar wag, hier vertel hy nou vir die nie-Jode in die gemeente wat hulle volksgenote doen. Jy spits jou ore. Hy skryf hulle oortree die eerste gebod omdat hulle God nie dien en eer nie. Hulle kon tog uit God se werke sien wie Hy is, al is Hy self onsienlik. Hulle neig maar altyd om die onsienlike te wil sigbaar maak in beelde van dit wat deur die onsienlike geskep is. Hulle het die waan dat hulle God kan beheer deur hulle beelde (Rom 1:18-25).

In die manier waarop hulle leef, kry hulle nie ’n openbaring van God se liefde en genade nie, maar van God se reaksie op mense wat Hom minag. Dit kom na vore in hulle onnatuurlike verhoudings. Jy dink onwillekeurig aan Epimea en Alesandra, die twee vroue by die mark. Hulle het hulleself mos op die fees van Venus so skandelik gedra. In plaas van om soos goeie vroue ondergeskik te wees, het hulle hulleself liederlik gedra en soos mans omgang gehad (Rom 1:26).

Die brutaliteit van Osfores die ystersmid kom by jou op soos wat Titus verder gaan met sy voordrag. Hy het sy slaaf Klikso en sy vrou beide verkrag omdat hulle dit gewaag het om sonder sy toestemming swanger te raak. Die losbandigheid van senator Julius Gaius wat homself op jong seuns, so oud soos sy eie kinders, afdwing bevestig hoe ontaard die heidene is (Rom 1:27).

Jy hoor hoe alles waarmee die heidene hulleself besig hou ’n oortreding van die tien gebooie is (Rom 1:28-32).

Verbeel jou nou jy is in Pretoria. Dit is 2016 nC. Jy sit in die erediens van ’n NG gemeente. Die dominee lees Romeine 1:18-32. Hy verduidelik die agtergrond van die teks soos wat die eerste hoorders dit sou verstaan het.

Skielik dink jy aan X en Y. Hulle bly nou al twaalf jaar in die huis agter die kerk. Ons almal weet hulle is gay. Jy onthou nog toe X by ons belydenis van geloof afgelê het en verstaan na vers 26 en 27 hoekom hy nie meer wil kerk toe kom nie. As hy net vanoggend hier was om te hoor dat ons hierdie verse so misverstaan, dat ons dit uitgesonder het om gays te veroordeel en eintlik gaan dit oor mense wat nie vir God dien en eer nie.

Jy weet X is lief vir God en dat hy verwerp voel deur die mense van God. Vanoggend sou hy kon hoor dat hy deel is van God se mense omdat hy God se liefde vir hom beantwoord het met sy liefde vir God. Hy is deel al is hy anders, net soos wat nie-Jode en Jode deel was van die gemeente in Rome, al was hulle nie dieselfde nie.

F, die eienaar van die motorhawe, is natuurlik ’n ander storie, jy weet van die losbandigheid van die partytjies by sy huis waar jong seuns al verkrag is. Daar is net nooit genoeg getuienis teen hom nie. Hy het mos al openlik verklaar dat God dood is en dat hy die god van sy besigheid is. Is F nou veel anders as G? G verniel sy vrou op ’n brutale manier en hy verkul haar met jong meisies!

Na afloop van die erediens is jy in diep verwondering voor ons wonderlike God wat nie losbandigheid, brutaliteit en liederlikheid kan verdra nie omdat dit sy mense aantas – mense wat Hy so liefgehad het dat Hy aan ’n kruis vir hulle gesterf het. Jy dink: “Miskien moet ek vir X en Y gaan kuier …”

– Dr Myburgh se navorsingsinligting kan aangevra word by canismyburgh@gmail.com


Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde aan kerkbode@tydskrifte.co.za te skryf. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top