In die kerklike gesprek oor gay-verbintenisse word Romeine 1 dikwels beskou as een van die sleuteltekste. Hier is twee verskillende perspektiewe op die saak as deel van Kerkbode se gay-debat.
Lees ook Kobus Myburgh se bydrae: Kom reis saam met Romeine 1.
Hierdie is seker die moeilikste artikel wat ek al in so ’n beperkte formaat moes skryf. Die beperking laat dit koud en onpersoonlik oorkom. Aan die einde daarvan worstel ek steeds met die radikale en absolute stellings van Paulus. Maar, ek kan dit nie versag nie. Anders sê Romeine 1 nie meer wat Paulus bedoel het nie.
Ek vind bemoediging in Rosaria Butterfield se stelling toe sy deur Romeine 1 aangespreek is om haar selfdegeslagverhoudingslewe te versaak: “At a certain point, I realized that the Bible was God’s Word, and it had the right to condemn me, and not the other way around.” (Openness unhindered).
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/04/van-Wyk-Chris-Oos-Kaap.jpg” caption=”Dr Chris van Wyk is predikant van die NG gemeente Somerstrand in Port Elizabeth en moderator van die NG Kerk in Oos-Kaapland.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Vergelyk ook Christopher Yuan op Youtube, en sy boek saam met sy ma, Angela, wat sewe jaar vir hom gebid het om tot bekering te kom, Out of a far country.
Ek gebruik NT Wright se vier take wat vir Bybelse interpretasie nodig is: geskiedenis, teologie, eksegese, toepassing (Paul and his recent interpreters).
In die konteks van die geskiedenis:
Baie mense dink dat Paulus met geen langtermyn selfdegeslagverhoudings vertroud was nie, net prostitusie en pederastie (ouer mans met jonger seuns). John Boswell (Same-sex unions in premodern Europe) beskryf egter vier vorms van selfdegeslagverbintenisse in die Romeinse gemeenskap van die eerste eeu nC. Sommige was wettig en langtermyn (Nero). Dié konteks kan nie langer geïgnoreer word nie.
In die konteks van OT teologie:
Paulus skryf vanuit die Ou-Testamentiese konteks waarin enige vorm van selfdegeslag-seksuele gedrag afgewys is (vgl Gen 19 en Rigt 19). Nie net het Deuteronomium 23:17-18 selfdegeslag tempel- en gewone prostitusie afgewys nie. Ook Levitikus 18:22 (20:13) het volwasse, wedersyds-instemmende selfdegeslag-verhoudings in familieverband afgewys: “By ’n man mag jy nie slaap soos jy by ’n vrou slaap nie.” Die OT is konsekwent afwysend teenoor selfdegeslagverhoudings.
In terme van die eksegese:
Paulus skryf die brief aan Rome om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, onder andere deurdat gelowiges uit die heidennasies anders sou moes leer lewe, sonder enige onsedelikheid en afgodery (Hand 15; vgl Op 2:20).
Daarom begin Romeine 1:18-32 met die verwysing na God se toorn oor die “goddeloosheid en ongeregtigheid van (alle) mense (anthropôn)”. Hulle het die heerlikheid van die Skepper verruil vir die heerlikheid van verganklike mense. Daarom het God hulle oorgegee aan allerlei sedelike onreinheid, skandelike drifte en onbetaamlike dade. Dit raak selfdegeslagverhoudings as volg:
- Paulus beskryf in vers 24 selfdegeslag-seksuele gedrag as seksueel onrein (akatharsia). Dit sluit die seksuele ontering van mekaar se liggame buite die huwelik in.
- Paulus beskryf in vers 26 selfdegeslag-seksuele gedrag as skandelike drifte (pathê atimias). Dit gebeur waar vroue met vroue seks het (1:26), en mans met mans (1:27) – sonder uitsondering. Hierdie selfdegeslagseks het nie met prostitusie of met pederastie te make nie, maar met wedersyds-instemmende selfdegeslagseks tussen volwassenes. Die algemene woorde vir vroue en mans word gebruik – arsen en thelus – nie die Griekse woorde vir getroude vroue en mans nie.
- Paulus beskryf in vers 26 selfdegeslag-seksuele gedrag as teen-natuurlik (para fusin – Louw-Nida: natuurlik = “The result of its natural development or condition”). Daarmee bedoel Paulus dat dit teen die skeppingsbedoeling vir die mens is, soos uit sy gebruik van skeppingsterminologie uit Genesis blyk (hemel, mensdom, kosmos, skepsel, Skepper). Dit gaan hier nie oor ’n heteroseksuele persoon wat selfdegeslagseks beoefen nie. Dit is ook nie kultureel-bepaald nie, maar word godsdienstig-eties afgewys.
- Paulus beskryf in vers 27 selfdegeslag-seksuele gedrag as seksuele losbandigheid of perversie (planê), wat lei tot onbetaamlike dade wat sy eie verdiende straf dra. Paulus laat dus nie ruimte vir óf korttermyn, óf langtermyn selfdegeslag-seksuele gedrag nie, selfs nie as dit in liefde en trou gebeur nie. Die enigste ruimte wat hy vir seks erken, is die ruimte van die huwelik tussen man en vrou (1 Kor 5 – 7), soos Jesus ook geleer het (Matt 19).
TOEPASSING: Paulus wys alle selfdegeslagverhoudings konsekwent af. Dié besef is skokkend radikaal en absoluut. ’n Mens wens amper Paulus was verkeerd, óf dat ons vandag dié woorde kan ignoreer. Vir ’n kerk wat die Bybel as die Woord van God aanvaar, is dit egter onmoontlik.
NGB 7 sê: “Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie.”
NGB 13 sê: “Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.”
Wat ons wel kan doen, is om geen gelowige mens wat ’n selfdegeslagaantrekkingskrag beleef, uit te sluit nie. Vergelyk Sam Allberry en ander se insette hieroor by livingout.org. Die beste pad is Scot McKnight se omvattende verlossende reis met mekaar binne die raamwerk van die Skrif (A fellowship of differents).
Dieselfde geld mense wat saamwoon, buite-egtelike verhoudings het, skei en selfs hertrou. Niemand word versaak nie, maar so ook nie die boodskap van die Bybel nie.
Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde aan kerkbode@tydskrifte.co.za te skryf. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.