In die debat oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, is daar twee sake wat telkens ter sprake kom as riglyne vir die kerk: die wet en die liefde. Wat is die verband tussen hierdie twee? Hierby is twee perspektiewe op die saak.
Lees ook Dawie Botes se perspektief: Die kruis kan nie verstaan word sonder die wet nie.
Die 1999-fliek, The Cider house rules (gebaseer op die boek van John Irving), vertel die verhaal van ’n jong man, Homer Wells, wat te midde van geweldige kompleksiteit iets besonder kosbaars leer oor reëls en regulasies.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/06/Charlene-van-der-Walt.jpg” caption=”Dr Charlene van der Walt is predikant van die NG gemeente Maitland, sy is verbonde aan die Departement Ou en Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en koördineer ’n Magister-program met die fokus Gender, Gesondheid en Teologie, en sy werk as navorser vir Inclusive and Affirming Ministries.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
In ’n stadium terwyl hy as seisoenwerker op ’n appelplaas werk, ontdek hy in die slaapkwartiere van die werkers ’n netjiese stel uitgetikte reëls op ou vergeelde papier. Die reëls wat teen die houtmuur vasgespyker is dui presies aan hoe die verblyfsruimte benut moet word.
Daar word uitgestippel waar dit gepas is om te sit, waar geëet kan word en veral dat werkers nie op die dakterras mag bymekaarkom na ’n dag van harde arbeid nie (alhoewel dit al plek is waar ’n mens bietjie kan afkoel en tot verhaal kom na ’n harde dag se handearbeid).
As Homer en sy medewerkers die stel reëls lees en daaroor in gesprek tree met mekaar, maak hulle baie vinnig die optelsom dat die mense wat die reëls opgestel het, duidelik nog nooit self in die slaapkwartiere gewoon het nie.
Homer, wat op die appelplaas werk omdat hy ander eties komplekse werklikhede wil ontvlug, ontdek in die Cider House Rules die noodsaaklikheid van konteks en deurleefdheid as dit kom by die opstel en die toepassing van reëls.
Ek reken dit is makliker en vermoedelik minder moeite om buite ’n situasie te staan en netjies opgestelde reëls aan ander voor te hou en om daarmee enige moontlikheid tot gesprek ongedaan te maak.
Verskraling
In die huidige debat rakende selfdegeslagverhoudings kry ek die indruk dat die “wet” soos dit netjies uit die “Skrif” afgelei word, eenvoudig as ’n soort laaste woord aan gay mense voorgehou word en dat die saak dan daarmee afgehandel is.
Op dié manier verskraal ons egter die rykdom van ’n verskeidenheid van genres, kontekste en geloofswerklikhede wat deel vorm van die Bybelse biblioteek deur dit eerder te verskraal tot ’n direk toepasbare wette-kodeks.
In die aanhaal van Ou-Testamentiese wette of Pauliniese voorskrifte asof dit klinkklaar op moderne situasies van toepassing is, skep ons die indruk dat daar geen interpretasie of vertaling nodig is nie as ons met eeue oue literatuur gekonfronteer word wat getuig van ’n wêreld ligjare verwyder van ons eie.
Eerder as lang lyste uitgetikte reëls en wette vind ek in die Bybel verweef ’n verskeidenheid verhale wat getuig van gewone mense (dikwels die mees onwaarskynlikstes) wat deur God uitgenooi word om op verskillende maniere onderweg te gaan en in die proses te ontdek wat dit beteken om meer liefde te bewys, om meer gasvry te wees en om meer bewustelik van persoonlike broosheid en die weerloosheid van ander te leef.
Selfs die reëls en wette wat ek opgeteken aantref, vind ek ingebed in ’n verhaal van die God wat ons aanbid wat onderweg gaan met mense. Ek ontdek die God wat ons nooi tot verhouding en op dié manier die rykdom van die lewe aan ons openbaar en ons ook uitdaag om verhouding met ander te waag. Al is dit soms so eindeloos pynlik, bly dit die diepste skat wat die lewe ons kan bied.
Verhale
Dit wil my blyk dat die riglyne vir ’n Christelike lewe opgesluit lê in verhale; komplekse en konfronterende verhale. Ons leer wie ons is en hoe ons in die lewe behoort te staan deur na verhale te luister, deur ons verhale te vertel, deur uitgedaag te word deur verhale en deur lesse te leer vanuit die stories van hulle wat ons vooruit gegaan het.
Stanley Hauerwas verwys na die belang van ’n narratiewe benadering tot die ontwikkeling van ’n Christelike etiek as hy sê: “Christians do not have a ‘morality’ per se, but rather our morality is embedded in the stories that require constant retellings. Telling a story, particularly stories like those Christians tell of God’s dealings with them, is a frightening business since in the telling one frequently has the story retold in a manner that is surprising and challenging to the teller.”
Die waardes wat ek aflei vanuit ons geloofsverhale is dié van radikale gasvryheid, vergifnis, deernis, gemeenskap, duursaamheid en natuurlik liefde. Hierdie waardes dring ons om dalk eerder na mekaar se stories te luister as om mekaar met reëls oor die kop te slaan en met wette te verlam. Dit daag my uit om eerder in liefde en deernis met die ander onderweg te gaan as om op my eie ‘reg’ te wees.
So dikwels sien ons hoe die lewe moontlik word as mense mekaar raaksien, as mense dit regkry om mekaar verby vooroordele te ontmoet, as mense mekaar se stories hoor. Mag ons dit regkry in hierdie brose dae om verby die vooropgestelde idees van mekaar sommer net by mekaar tuis te kom, mag ons hart breek as ons dit waag om mekaar se stories te hoor.
Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde te skryf aan kerkbode@tydskrifte.co.za. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.