In die debat oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, is daar twee sake wat telkens ter sprake kom as riglyne vir die kerk: die wet en die liefde. Wat is die verband tussen hierdie twee? Hierby is twee perspektiewe op die saak.
Lees ook Charlene van der Walt se perspektief: Die riglyne vir Christelik leef lê in verhale.
Genade, liefde en die wet is God se radikale boodskap vir die kerk. Die een kan nie sonder die ander nie.
Die Nederlandse Geloofsbelydenis praat van die Woord van God (die Bybel is definitief nie mense se woorde oor God nie!) wat God se liefde, genade en die wet bevat in Artikel 2-7. Die Heidelbergse Kategismus (HK) praat ook van sonde én verlossing én dankbaarheid, dit is nie die een óf die ander nie. Die hele Skrif leer ons as genadebedelaars hoe om dankie te sê met ons lewe voor die Here.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/06/Foto-Dr.-Dawie-Botes-2.jpg” caption=”Dr Dawie Botes is leraar van die NG gemeente Vrede-Wes in die Vrystaat. Hy dien op die dagbestuur van die Kuratorium van die Vrystaat, is kerklike eksaminator by die Departement Ekklesiologie van die Universiteit van die Vrystaat, en hy dien op die Sinodale Taakspan Kerkorde.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Ons leef in ’n tyd waar byna elkeen doen wat hulle wil. Om in beginsel negatief te wees oor reëls en gebooie is gewoon onwys. Om ook nog verder te dink dat ons beter as die Here weet vir wat die diep geheim vir ’n gelukkige lewe en samelewing is, spreek van geen insig nie.
Dit lyk my ons wil God halfpad ontmoet oor wat nou eintlik die geheim vir die lewe is, in dié geval die huwelik.
Vir Israel was die wet nie ’n las nie, maar ’n stuk genade in hul lewe, ’n teken van God se liefde vir hulle.
Ons sal ’n groot fout maak as ons in die wet byna net die imperatiewe hoor, die moets en moenies. In die wet sê die Here vir Israel, asook vir ons vandag, dinge oor ons menswees wat ons nie op ons eie sou kon uitvind nie.
‘Tien geheime’
Ons sou ook die wet kon noem “tien geheime vir ’n gelukkige en geseënde lewe”. Enigeen wat buite die wet handel, kan getuig van die slegte nagevolge.
Die wet is tog die kenbron van die mens se ellende, die tugmeester tot Christus en die reël van gelowiges se dankbaarheidslewe – so word die wet in Sondag 44 van die Heidelbergse Kategismus beskryf.
Calvyn vertolk die openingswoorde van die wet byvoorbeeld as “liefdevol en bevrydend”. In Matteus 5:17-20 beklemtoon Jesus Christus self die belangrikheid van die wet. Een van hierdie veilige ruimtes is juis die huwelik tussen een mán en een vróú.
By die tweede tafel van die wet word oor lewe, oor die huwelik en seksualiteit en oor die waarheid gepraat. Dit gaan ten diepste oor respek en in die Nuwe Testament word in aansluiting die woord liefde gebruik. Die Dordtse Leerreëls praat sommer ook vroeg van God se liefde waarsonder nie een van ons kan nie (Hfst 1.2).
As jy voor die Here kniel met jóú terme en jóú voorwaardes, gaan elke ontmoeting jou teleurstel. Luther het gesê as iemand regtig glo, sal dit gesien word op die manier hoe so ’n persoon dit uitleef.
Indien ons aan die Skrif bly torring, bly daar niks oor nie. Niks om oor te preek nie of oor te getuig nie. Die kerk kan dan sy profetiese tasse wegpak en net goedvoelpakkies vir almal uitdeel.
Ons sal as kerk dringend ons profetiese rol moet herontdek. ’n Gemakstoel-godsdiens kry ons nie in die Bybel nie.
Ons word versmoor deur voelgoedpraatjies en kitsresepte van ’n beter jy. Sê maar net “ja” vir Jesus is al wat oorbly, terwyl ons nie eens weet wat die vraag is nie. Die kerk moet my altyd net tuis en goed laat voel.
Die hele debat sit Skrifgesag en Skrifhantering vierkantig op die tafel van die kerk. Dit bepaal ook hoe jy sou kyk na die wet, genade en die liefde in die Bybel.
Teologiese opleiding
Hoe hanteer ons drie teologiese fakulteite nog die Skrif en ons belydenisskrifte? Nie een van die drie fakulteite is meer NG of gereformeerd nie. Die kerk moet baie dringend na sy hele eie teologiese opleiding kyk.
Die NG Kerk moet oppas om nie een van sy kernbesighede te verloor nie, naamlik die evangelie van Jesus Christus. Ons kerk dobber rond, ons navigasie vir die pad vorentoe is soek omdat die kerk toelaat dat die wêreld met sy kop smokkel.
Is die kruis los van die Bybelboodskap? Nee, dit kan tog nie! Net so hoef ons ook nie te kies tussen die solas van die reformasie nie, nie tussen genade óf geloof óf Christus óf Woord nie. Nee, hulle vorm ’n hegte eenheid.
Die Ou Testament en Nuwe Testament komplementeer mekaar. Só ook die wet en die liefde.
Die wonder van die kruis kan ook nie verstaan word sonder die wet nie. As Israel gedink het aan die wet of die Tora, het hulle juis gedink aan God se liefde wat hulle na lewe wil lei.
Gereformeerdes doen moeite om te sê dat wet en evangelie mekaar komplementeer. Die kerk moet die héle Bybel ernstig opneem en nie net sekere dele nie! Dis tyd om op te staan vir die Woord van die Here, so help my God.
“Om ons vry te maak van sonde
het u Seun gesterf, o God!
Deur geloof aan Hom verbonde,
sal ons leef na sy gebod.
Lief’d het U na ons gebring –
Jesus laat u liefde ons dring,
laat die liefde, so verhewe,
ons besiel deur heel ons lewe.”
(Lied 232 vers 2)
Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde te skryf aan kerkbode@tydskrifte.co.za. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.