Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Drie-enige God – en selfdegeslag-verhoudings?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Nadia Marais van Stellenbosch skryf:

Hancke van Blerk se bydrae tot die Kerkbode-debatreeks (20 Mei 2016) oor selfdegeslagverhoudings verwys. Ek is verbaas om te lees dat daar nog op so ’n beperkende en dualistiese wyse oor Godsbeeld gedink word binne die NG Kerk.

Die skrywer is uiteraard korrek, rakende die klem wat hy plaas op Godsbeeld as uitgangspunt – ook binne die huidige gesprekke oor selfdegeslagverhoudings. Dit is natúúrlik so dat die beeld(e) van God waarop daar be­roep word ’n beduidende rol speel in hoe ’n mens oor persone in selfdegeslagverhoudings sal dink. Trouens, juis dít is waarop die Seisoen van Menswaardigheid ons bedag maak (en moet maak), wat betref hoe ons mense behandel binne sowel as buite die kerk.

Juis daarom was ek verbaas dat die skrywer hom op die sogenaamde attribute of kenmerke van God beroep – ’n benadering wat sedert Karl Barth onder ernstige kritiek deurgeloop het weens die gebrek aan enige verwysing na die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. ’n Benadering wat ditself só sterk op Godsbegrip beroep, en tog ook nie Christologies funksioneer nie, is verdag.

Daniel Migliore skryf in sy Faith seeking understanding dat die Christelike tradisie se hantering van die kenmerke van God dikwels verwarrend en niksseggend was. Juis daarom wys hy daarop dat verreweg die meeste moderne teoloë kies om vanuit die belydenis dat God drie persone, een in wese is te werk. Gereformeerde teoloë soos Barth en Migliore – insluitend NG Kerk-teoloë soos Willie Jonker – sou daarom aandring daarop dat die Drie-eenheid en die Godsopenbaring in Christus die konteks is waaruit Christene enigiets oor God sê.

Die teenstelling of “(wan)balans” waarvan die skry­wer praat is dus ’n valse teenstelling. Dit is vanuit die geborgenheid in God, of tuiskoms in die gemeenskap van trinitariese liefde, wat Christene nadink oor mense. Insluitend mense in selfdegeslagverhoudings.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top