Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Chris van Wyk van Port Elizabeth skryf:
Die opmerkings van Nadia Marais oor die kenmerke van God wat volgens haar nie meer gebruik word nie, verwys. Ek dink nie ons kan die kenmerke van God enigsins losmaak van ons Godsbeeld nie. Dis juis in die kenmerke van God wat ons Hom leer ken, in sy Vaderlike, Christelike en Pneumatologiese gestaltes.
Nêrens word dit beter as in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) geformuleer nie. Die NGB praat in artikel 1 eers oor God in terme van sy enkelvoudigheid voor sy trinitariese karakter in artikel 8 aan die orde kom. God se enkelvoudigheid word beskryf met kenmerke wat onderling gedeel word: “ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is”.
God se meervoudige trinitariese gestalte word in artikel 8 eweneens beskryf met kenmerke, maar dié keer met kenmerke wat nie gedeel word nie. God die Vader is: “die oorsaak, oorsprong, en begin van alle sigbare en onsigbare dinge”. God die Seun is: “die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader”. God die Heilige Gees is: “die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan”.
Die NGB vervolg dat dit juis op grond van dié kenmerke is wat God se triniteit en enkelvoudigheid beskryf kan word. Daarmee vermy die NGB die gevaar van ’n enkelvoudige beskrywing van God, wat per definisie ’n skeefgetrekte beeld sal wees. Die NGB vermy ook die gevaar dat ’n mens net by die misterieuse kant van God vasval en nie sy helder Selfopenbaring raaksien nie. Beide gevare word vermy met ’n helder beskrywing van juis die kenmerke van God.
Is dit nie tyd dat alle teologiese besinning in ons kerk aan ons belydenisskrifte se helder en genoegsame verwoording getoets word nie? Die NG Kerk is immers ’n belydeniskerk.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
