Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Anoniem skryf:
’n Vriendin van my is vroeg in haar getroude lewe van haar man geskei. Kort daarna het hy ook selfmoord gepleeg. Sy moes haar drie kinders alleen grootmaak. Een van die hoofredes vir hul egskeiding was sy chroniese, erge depressie. En dit as gevolg van die feit dat hy gay was, maar dit nooit kon openbaar maak nie.
’n Paar jaar later het haar een dogter uitgekom dat sy gay is. Nog ’n paar jaar later het sy aangekondig: “Ma, hier is my vriendin met wie ek wil trou”.
Weer is my vriendin gekonfronteer met die realiteit van homoseksualiteit wat haar en haar gesin tot in die diepste wese geraak het. Dit was ’n baie intense pad wat hulle as gesin moes loop tot aanvaarding van homoseksualiteit as ’n oriëntasie en dat jy steeds ’n Christen kan wees.
Hierdie verhaal sluit so sterk aan by die grondslag van dr Charlene van der Walt se artikel in Kerkbode van 3 Junie 2016. Sy sê dat dit vir haar blyk dat die riglyne vir ’n Christelike lewe opgesluit lê in verhale en dat baie van die beginsels wat in die Bybel neergelê is, juis deur verhale van mense aan ons oorgedra word.
Die grootste hartseer in die debat oor homoseksualiteit in die kerk is dat die meerderheid van gay mense reeds uitgedryf is uit die kerk uit. Hulle het aangesluit by ’n onafhanklike kerk vir gay mense waar hulle welkom is, of hulle het heeltemal kerkloos/kerklos geraak, of hulle het hul rug gedraai op die Christelike godsdiens. Van die waardes waarvan Van der Walt praat soos radikale gasvryheid, vergifnis, deernis, gemeenskap, duursaamheid en liefde, kom niks tereg nie.
Vir baie van die sogenaamde “behoudende” lidmate is dit eintlik ’n verligting dat die gays die kerk verlaat, want daardeur word die “probleem” net kleiner en sal dit hopelik uiteindelik verdwyn.
Hoe hartseer!
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
