Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ander teologiese merkers

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Marius Maree van Welkom skryf:

Dr Dawie Botes se stuk oor liefde en die wet (Kerkbode van 3 Junie 2016) verwys. In sy artikel word die 10 gebooie gebruik (voorgeskryf?) om gays tot orde te roep. Dis eenvoudig. Lees wat staan daar. God het die huwelik bedoel as ’n verhouding tussen een man en een vrou.

Dis opvallend dat dr Botes net die dekaloog gebruik ter stawing van sy argument. Hoekom ignoreer hy die honderde ander wette in die Ou Testament wat Israel se lewe met God gereël het? Hoekom selekteer hy net dié dele wat sy standpunt oor homoseksualiteit ondersteun? Wat van ’n teks soos Levitikus 19:19 wat gelowiges verbied om klere wat van verskillende soorte materiaal gemaak is te dra? Of Levitikus 18:19 se verbod op seks met ’n vrou wat menstrueer?

Deuteronomium 22:13 bepaal selfs dat ’n man wat ná sy troue uitvind dat sy vrou nie ’n maagd is nie, haar mag wegjaag.

Dr Botes werk met ’n selektiewe hermeneutiek wat teologies verdag is. Agter so ’n hantering van die Bybel skuil ’n teologie van mag – ’n teologie wat mense wat anders is, wil uitsluit, diskrediteer en beheer.

Die onderskeid tussen “seremoniële” en “morele” wette help ons ook nie. Robert Carroll het oortuigend aangetoon dat die verskillende wette en prohibisies in die Ou Testament op een vlak lê. In die teks self is geen steun vir differensiëring nie. Ons self het dié onderskeid op die teks afgedwing.

Die seksuele etiek van die Ou Testament reflekteer ’n aggressief-reproduktiewe sisteem waarin enige vorm van afwyking as ’n gruwel beskou is. Dis myns insiens onmoontlik om hierdie premoderne samele­wing te herinterpreteer vir ons wêreld van 2016.

Ons sal na ander teologiese merkers (bv die radikaliteit van die genade, die doop) moet kyk om ons te help in die gesprek oor selfdegeslagverhoudings.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top