Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Chris van Wyk van Port Elizabeth skryf:
James Brownson se Bible, gender, sexuality (Kerkbode, 5 Augustus 2016) verwys. Ek het waardering vir Brownson se billike beoordeling van die gay-debat. Brownson het met nuwe oë die Bybel begin lees nadat sy seun homself as gay geïdentifiseer het. Brownson het daarna van sy vroeëre tradisionele standpunt afstand gedoen. Hy maak egter twee sleutelveranderinge in sy lees van die Bybel wat problematies is.
Brownson definieer die huwelik nie meer aan die hand van binêre geslagtelikheid nie. Hy ignoreer die feit dat God in die tweede skeppingsverhaal vir die man ’n vrou gee om in ’n heteroseksuele lewensverbintenis te lewe. Hy beklemtoon slegs die feit dat mense vir mekaar as “maats” gegee is. Volgens hom kan enige twee mense wat maats is vir mekaar in ’n verbintenis lewe, maak nie saak wat hulle geslag is nie.
Geslagtelikheid word dus onderwaardeer in sy teologie oor die huwelik. Hy verhef “maatskap” bo “geslagtelikheid” al word geslagtelikheid baie meer omvattend in die eerste twee skeppingsverhale as vertrekpunt vir verbintenisse uitgespel.
Brownson verander tweedens die verwysings na malakoi en arsenokoitai in 1 Korintiërs 6 en 1 Timoteus 1. In plaas van die Griekse semantiese betekenisse van “passiewe selfdegeslag seksgenote” en “aktiewe selfdegeslag seksgenote” (Louw/Nida), of soos die BDV vertaal: “mans wat met mans intiem verkeer” herinterpreteer hy die twee woorde op subtiele wyse dat dit dui op “jonger” mans en “ouer” mans. Daarmee verander hy egter die Griekse betekenis van die twee woorde as verwysings na pederastie.
As Paulus van pederastie wou praat, sou hy die Griekse term paiderastia kon gebruik. Die Griekse woord arsenokoitai is ’n neologisme in die Griekse taal wat deur Paulus geskep is. Dit dui op mans wat met mans intiem verkeer, sonder dat ouderdom ter sprake is. Brownson verander dus wat in die Bybelteks geskryf staan. Dit is inlees, nie uitleg nie.
