Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Marcel Vosloo van Die Strand skryf:
Ek reageer graag op Daniël van Rooyen se brief waarin hy gedagtes lug oor my bydrae in Kerkbode van 22 Julie. Hy stel onder andere: “’n Mens kan natuurlik ongelooflike goed bewys deur onverantwoordelike en onwetenskaplike gebruik van statistiek.” Ek wil net sê dat ek van harte ’n onbevange en eerlike kyk na alle sake voorstaan. Dit pas by kinders van die Here en bevorder ook eenheid onder ons. Die leuen lei tot verwarring, onsekerheid en verdeeldheid.
Teenoor sy negatiewe beoordeling van die wetenskapsbronne wat ek aangehaal het, verwys Daniël dan positief na “gesaghebbende instansies” soos ASSAF se verslag. Neem dan asseblief ook in aanmerking dat op bladsy 33 van hul verslag daar ruiterlik erken word: “… science, at present, is unable to show conclusively what causes sexual orientation …” Bly dan daarby en moenie iets sê wat nie met sekerheid gesê kan word nie.
Dis interessant dat Lawrence S Mayer en Paul R McHugh van Johns Hopkins Universiteit sopas die resultate van hul navorsing bekend gemaak het wat op baie dieselfde styl as ASSAF se studie gedoen is. Hulle het na meer as 200 navorsingsresultate op die gebiede van o.a. epidemiologie, genetika, endokrinologie, psigiatrie, neurowetenskap, embriologie en pediatrie gekyk. Hul bevinding is die volgende: “The understanding of sexual orientation as an innate, biologically fixed property of human beings – that people are “born” that way – is not supported by scientific evidence“.
My versoek is dat ons rustig na die waarheid sal soek, sonder dat vooropgestelde idees ons sal verhinder om by die waarheid en by mekaar uit te kom.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
