Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Daniël van Rooyen skryf:
In sy artikel as deel van die gay-debat in Kerkbode van 22 Julie 2016 verwys ds Marcel Vosloo onder andere na navorsing wat gedoen is in 1985 en selfs so ver terug as 1980. Dit is 30 tot 35 jaar oud! Dit probeer nog die teorie bewys dat ’n sogenaamde oorbeskermende ma en afwesige pa homoseksualiteit veroorsaak.
As jy vandag met die oorgrote meerderheid van sielkundiges wat spesialiseer om met homoseksuele mense te werk, wetenskaplikes en homoseksuele mense self gaan praat, sal jy besef dat daardie teorie lankal nie meer aanvaar word nie en dat die sogenaamde oorbeskermende ma en afwesige pa eintlik die gevolg is daarvan dat die ouers dit juis instinktief aanvoel dat hul kind “anders” is.
Omdat hulle onbewustelik die vrees het dat hul kind homoseksueel gaan wees, tree hulle in reaksie daarop juis op ’n bepaalde manier op in ’n poging om die kind te “beskerm” of “manlik” te maak.
In baie van die navorsing wat ds Vosloo verder aanhaal, word statistiek gebruik om bepaalde hipoteses te bevestig. Die vraag is: Hoe geloofwaardig is daardie navorsing? ’n Mens kan natuurlik ongelooflike goed “bewys” deur onverantwoordelike en onwetenskaplike gebruik van statistiek.
In hierdie verband moet ’n mens goeie aandag gee aan dr Nadia Marais se artikel in dieselfde uitgawe van Kerkbode waarin sy verwys na verslae uitgereik deur gesaghebbende instansies soos die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika, die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Handboek van psigiatriese afwykings van die Amerikaanse Sielkundevereniging.
In gevalle van seksuele misbruik van kinders en waar hulle dan ’n identiteit van homoseksueel aangeneem het, glo ek dat baie van hulle waarskynlik nie kern-homoseksueel is nie. In sulke gevalle sal ek dit glo dat “bekering” of “herstellende terapie” hulle sal help om hul kern-heteroseksuele oriëntasie te herwin.
