Dit is nie net die kerk wat oor homoseksualiteit praat nie. Uit die verskillende wetenskappe kom daar baie navorsing en insigte. Die vraag is wat die kerk hiermee moet maak. Hierby is twee perspektiewe op die saak.
Lees ook ds Marchel Vosloo se perspektief: Oorsake lê in natuur en omgewing
In ’n lesing verlede jaar by die Universiteit van St Andrews maak die gereformeerde teoloog, Randall Zachman, die punt dat die Hervormer Calvyn ’n diep waardering vir die wetenskappe, waaronder astronomie en biologie, gehad het. Die wyse waarop Calvyn byvoorbeeld oor die menslike liggaam skryf in sy Institusie (1.5.2) beklemtoon dat God te bespeur is in die artikulasie, simmetrie, skoonheid, en funksionering van ’n liggaam.
Hierdie voorbeeld behoort te illustreer dat daar, reeds vanaf Calvyn, by die gereformeerde tradisie ’n nuuskierigheid oor en waardering vir wetenskaplike ondersoek sou wees.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/07/Nadia-Marais-swart.jpg” caption=”Dr Nadia Marais is ’n dosent in sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Wanneer die NG Kerk oor selfdegeslagverhoudings praat en besluite neem, is dit daarom geensins vreemd nie – trouens, júis onontbeerlik! – dat insigte vanuit die natuurwetenskappe, sosiale wetenskappe, en mediese wetenskappe verwelkom en verreken word.
Tog is dit nie ’n eenvoudige saak nie. Die kerk is immers nie ’n wetenskaplike instelling nie en sinodesittings is nie wetenskaplike vakkonferensies nie. Die erkenning dat die wetenskap ’n rol behoort te speel in die gesprek oor selfdegeslagverhoudings los dus nóg nie die problematiek rondom hoe die wetenskap verreken word op nie.
Hoe maak ’n mens sin van die verwarrende insae vanuit verskillende oorde? Hoe beoordeel die kerk wat deurslaggewend behoort te wees in ons nadenke oor seksualiteit?
Dit sou oneerlik wees om te maak asof daar binne die wetenskaplike wêreld nie ook meningsverskille rakende seksualiteit is nie. Die mees gesaghebbende onlangse wetenskaplike verslag rakende seksualiteit, opgestel deur die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika (ASSAF) en verlede jaar beskikbaar gemaak, erken egter diversiteit in menslike seksualiteit – dit is immers die opskrif van die verslag!
Waaroor daar wél konsensus in die verslag blyk te wees is (1) dat ’n eenvoudige skema van homoseksualiteit en heteroseksualiteit gewoon nie bestaan nie (daarom die gebruik van LGBTI in die verslag), (2) dat ’n verskeidenheid van seksuele identiteite nog áltyd deel was van ’n normale samelewing, en (3) dat géén wetenskaplike bewyse gevind kon word dat “bekering” of “herstellende terapie” seksualiteit kan verander nie.
Die feit, daarmee saam, dat die Wêreldgesondheidsorganisasie homoseksualiteit in 1990 gedeklassifiseer het as ’n afwyking behoort ernstig verreken te word. Dit sou op die spoor loop van die verwydering van homoseksualiteit uit die DSM (die sielkundige handboek vir psigiatriese afwykings) reeds in 1973.
Dit is gesaghebbende verslae (soos dié van ASSAF) en erkende handleidings (soos die DSM van die Amerikaanse Sielkundigevereniging) en internasionale mediese liggame (soos die Wêreldgesondheidsorganisasie) wat gewoon nie geïgnoreer kan word in die gesprek oor selfdegeslagverhoudings nie. Dit verteenwoordig die toonaangewende akademiese denkrigtings. Daarsonder sou die kerklik-teologiese nadenke oor komplekse kwessies soos seksualiteit armer daaraan toe wees.
Maar hoe moet ons hierdie bydraes vanuit die sielkunde en mediese wetenskap in verdere gesprekvoering verreken?
Die verrassende van die felheid van die huidige debat oor selfdegeslagverhoudings is dat die NG Kerk die gegewe van homoseksualiteit reeds toegegee het – by die Algemene Sinode van 2002, om presies te wees. Toe ons afstand gedoen het van die standpunt van 1986 waarin homoseksualiteit as ’n afwykende vorm van seksualiteit beskryf is.
Die sielkunde en mediese wetenskap (en spesifiek die besef dat homoseksualiteit intussen uit die DSM verwyder is) het dus alreeds ’n rol gespeel binne die NG Kerk se teologiese besinning oor seksualiteit.
Ook het die Algemene Sinode van 2015 haarself verbind tot verdere gesprek met “die beste huidige menswetenskaplike bevindings” (punt 8 van die besluit oor selfdegeslagverhoudings), sodat die verdere bydraes van die wetenskappe – soos die 2015 ASSAF-verslag – ernstig oorweeg en verreken sal móét word.
Dit beteken egter nie dat die kerk wetenskaplike insae soos enige ander vrywillige organisasie benader nie. In die gesprek oor selfdegeslagverhoudings behoort die kerk se eie aard tot uitdrukking te kom.
Juis die belydenis dat die kerk ’n gemeenskap van gelowiges is – die Christusliggaam wat gekenmerk word deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus – beteken dat die kerk as ’n geloofsinstelling besluite neem. Christus regeer oor die kerk deur Woord en Gees, sou Willie Jonker by herhaling sê en skryf, en daarom neem die kerk ’n teologiese standpunt in rondom sake.
Tog kan geen verantwoordelike teologiese gesprek óf standpuntinname moontlik wees sonder om die wetenskappe – insluitend die teologiese en Bybelwetenskappe! – te verreken nie.
In sy boek A time to embrace skryf die gereformeerde teoloog, William Stacy Johnson, juis oor die bydrae wat die politieke wetenskappe en regsgeleerdheid gelewer het tot die kerklik-teologiese hantering van selfdegeslagverhoudings in die VSA.
In die PCUSA, waarvan hy deel is, is selfdegeslaghuwelike in 2014 goedgekeur. Hy merk op dat dit uiteindelik die bydraes van akademici vanuit ’n verskeidenheid van dissiplines (soos die sielkunde, ekonomie, geskiedenis, politieke wetenskap, en mediese wetenskap) was wat die publieke mening oor selfdegeslagverhoudings sou laat verander.
Tog is dit tragies juis dat dit nié die kerk was wat die inisiatief sou neem om mense te omarm nie, maar dat die wetenskappe die kerk voortdurend daaraan moet herinner dat diskriminasie op grond van ras, gender, of seksualiteit onaanvaarbaar is.
Dit het tyd geword, kom Johnson tot die slotsom, dat kerke hulle gay broers en susters volledig en onvoorwaardelik omarm. Insluitend die NG Kerk, sou mens hoop, en des te méér op die vooraand van die 500-jarige Reformasievieringe.
Kerkbode nooi sy lesers om deel te neem aan die debat deur briewe van hoogstens 300 woorde te skryf aan kerkbode@tydskrifte.co.za. Hou die briewe asseblief saaklik, sodat die debat bo die vlak van persoonlike aanvalle kan bly.