Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die ‘ander kant’ van gay-verhoudings bekyk

HOMOSEKSUALITEIT EN DIE BYBEL
Deur Jan du Rand en Marius Nel
Uitgegee deur CUM, 2016
Resensie deur Frits Gaum


Op die agterplat van Jan du Rand en Marius Nel se boek lees ’n mens: “Die skrywers stel doelbewus die ander kant van die saak, téén­oor teoloë wat by die tydsgees aansluit deur selfdege­slag­georiënteerdheid ’n biologiese gegewe te noem en wat die Skrif so interpreteer dat dit selfdegeslagverhou­dings en -verbintenisse goedpraat.” 

Die boek is geskryf ná die 2015-Algemene Sinode wat besluit het dat selfdegeslagverbintenisse “in liefde en trou” aanvaarbaar is en dat gay predikante nie seli­baat hoef te wees nie. Wat die skrywers bepleit, het met die buitengewone Algemene Sinode van 2016 gebeur toe 2015 se besluite dramaties omgekeer is.

Du Rand is ’n hoogaangeskrewe Nuwe-Testamentikus en Nel het vier doktorsgrade, onder meer in die Ou en Nuwe Testament. ’n Mens lees dus hulle stand­pun­te met aandag en respek. Dit is egter baie jammer dat die skrywers – terwyl Du Rand kla dat teoloë en ge­lowiges wat “die ander kant” voorstaan, alte maklik van fundamentalisme en biblisisme beskuldig word – in hulle boek diegene wat van hulle verskil, onder meer bestempel as mense wat by die tydsgees aansluit en die Bybel nie ernstig genoeg opneem nie. Dit lyk asof hulle meen dat “die ander kant”, hulle “kant”, eintlik die enigste kant is. Oor hierdie saak kan dit egter nie. Daar is (minstens) twéé kante, en aan albei kante staan gelowige teoloë wat erns met die Bybel maak en toe­gewyd probeer om die Bybelse boodskap op ons tyd toe te pas. 

’n Goeie voorbeeld in dié verband is Du Rand se verklaring van Romeine 1:27-28, een van die netelige Skrifgedeeltes oor selfdegeslagseks. Du Rand gee toe dat Paulus hier waarskynlik met heterogene mans en vroue praat vir wie die “natuurlike” omgang vanselfsprekend heteroseksueel sal wees. Maar hy meen dat dit inlegkunde is om enige ander seksuele verhouding te verhef tot die “natuurlike” standaard (bl 64). ’n Ander hooggeagte Nuwe-Testamentikus en kenner van die Romeinebrief, prof Andrie du Toit, skryf egter hier­oor: “Hierdie Skrifgedeelte kan om twee redes nié van toepassing gemaak word op persone met ’n gefikseerde ‘anderse’ seksuele oriëntasie nie: Eerstens omdat sulke persone nie teen hulle natuur handel wanneer hulle aangetrokke voel tot persone van hulle eie geslag nie, en tweedens omdat Paulus – soos die mense van sy tyd – nie bewus was van die werklikheid van ’n ‘anderse’, voorgeboortelik-gefikseerde seksuele oriën­ta­sie nie. Hierdie werklikheid is eers in die jongste tyd wetenskaplik bewys” (Kerkbode, 4 Des 2015).

Dit lyk egter of sowel Du Rand as Nel vrae het oor ’n homoseksuele oriëntasie. Nel skryf: “Die alkoholis kan slagoffer van ’n predisposisie tot verslawing wees wat as verskoning vir sy/haar toestand kan dien … Dieselfde geld van ’n predisposisie tot homoseksualiteit, indien so iets bestaan” (bl 210). Du Rand gebruik die terme “homoseksualiteit” en “homoseksualisme” ook fou­tiewelik as sinonieme, en gee nie genoeg erkenning aan die feit dat homoseksualiteit ’n veelkantige term is wat uit die 19de eeu dateer en as sodanig nie aan Paulus bekend was nie. 

Du Rand skryf dat gay mense ’n keuse het: òf hulle trou met ’n persoon van die teenoorgestelde geslag, òf hulle bly selibaat. Wat eersgenoemde moontlikheid betref, word nie rekening gehou met die katastrofale gevolge wat so ’n “teen-natuurlike” verbinte­nis alte dik­wels het nie, en laasgenoemde moont­lik­heid stel ’n ver­eiste aan gay Christene wat nié aan ander Christene gestel word nie. Natuurlik is seks nie “die hoogste goed” van alles op aarde nie (bl 200), maar ’n mens se seksualiteit bepaal tog in ’n belangrike sin wie jy is. En om te sê dat jy een deel van jou bestaan moet toesluit as jy ’n Christen is, is so goed as om te sê jy is nou wel gebore met pragtige blou oë, maar jy moet net nie daarmee kyk nie! 

Terwyl Du Rand in sy beoordeling van die pad wat die NG Kerk geloop het voordat by die 2015-besluit uitgekom is, erken dat dekades se studie en verslae en taakspanne dit voorafgegaan het, meen hy tog dat die uiteindelike 2015-besluit “oorhaastig” was (bl 228). Hoe klop dié som?  

Wie meer wil weet oor die “ander kant”, het hier ongetwyfeld ’n belangrike bron. Solank onthou word dat hierdie “ander kant” op sy beurt ’n “ander kant” het. Ons sal moet ruimte maak vir mekaar se kante en insien dat oortuigde gelowige Christene hulle aan albei kante bevind en dat daar vir hulle in één kerk plek moet wees.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top