Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Koronavirus: Persverklaring deur NG Kerk se ASM

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.


Die Nederduitse Gereformeerde Kerk het kennis geneem van president Cyril Ramaphosa se aankondiging op Sondagaand 15 Maart 2020 rakende die verspreiding van die Koronavirus in Suid-Afrika.

Die NG Kerk verbind haarself tot die president se noodmaatreëls wat getref is om op die mees effektiewe wyse maksimaal saam te werk deur haar gemeentes en lidmate op te roep om gehoor te gee aan die noodmaatreëls wat getref is.

Daarom is die NG Kerk (met al haar gemeentes, leraars en lidmate) van voorneme om aan die hand van die noodmaatreëls alles wat moontlik is te doen en wat binne haar vermoë is om:

  • Hierdie een kans wat ons het om die verspreiding van die virus te verlangsaam, aan te gryp deur so vinnig as moontlik en so beslis as moontlik, maatreëls te tref wat sosiale kontak tussen mense sal verminder.
  • Lidmate op te roep om die andersoortigheid van die Koronavirus te begryp en dat dit nou van ons deernis en buitengewone optrede vra. Deernis beteken nou om sosiale kontak te beperk waar en hoe ons ookal kan.
  • Haar lidmate op te roep om met groot verantwoordelikheid en selfbeheersing op te tree. Dit word van gelowiges wat draers van hoop is, gevra om hulle te weerhou van onverskillige uitsprake (byvoorbeeld soos dat die uitbraak van die virus ’n voorbeeld van God se straf is of dat dit net sekere persone in die gemeenskap raak).
  • Lidmate op te roep om te fokus op naastediens en veral weerlose mense te ondersteun.
  • ’n Beroep op gemeentes te doen om nie voort te gaan met hulle tradisionele benadering tot die erediens nie, maar binne hulle konteks maatreëls te tref dat die evangelie steeds aan mense verkondig kan word, sonder die samekoms van groot groepe mense.
  • Lidmate op ’n verantwoordelike wyse in te lig oor voorsorgmaatreëls, eerste oppervlakkige onderskeiding van die simptome van die virus, aanmeldingsprosedures, ens.
  • Lidmate bewus te maak dat hierdie maatreëls getref is aan die hand van die Wet op Rampbestuur (Act 57 of 2002, Disaster Management Act) en dat alle landsburgers verplig is om by die maatreëls te hou wat ten tye van rampgebeure afgekondig word.
  • Uitgereik deur die Dagbestuur van die Algemene Sinodale Moderamen

Uitnodiging: Deel hieronder praktiese wenke hoe gemeentes sinvol in hierdie moeilike tyd kan optree asook skakels na hulpbronne wat jy vertrou. – Red. 

 

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.