Kerkbode: ‘Dankie vir steun, jammer vir ontwrigting’

Getroue lesers

Te midde van al die ontwrigting wat die Koronavirus meebring, is ons verhouding met ons intekenaars en adverteerders steeds vir die Kerkbode-span ’n prioriteit.

Ons is diep besorgd oor die swaarkry wat vir vele in ons land voorlê. Terselfdertyd is ons bemoedig deur die opvallende groei in ons digitale leserstal hier by www.kerkbode.co.za, asook die groot belangstelling in ons nuwe susterwerf, www.kieskerk.com. Meer mense lees meer stories en kyk meer video’s via ons aanlynplatforms as op enige ander punt in Bybel-Media se geskiedenis en ons is dankbaar vir hierdie ondersteuning.

Die gedrukte formaat van Kerkbode is beslis die deel van ons besigheid wat weens die logistiek rondom aflewering in grendeltyd die meeste ontwrig is. Ons doen alles in ons vermoë om ontwrigting te bekamp, maar moes ’n alternatiewe, digitale plan maak om steeds die belangrikste nuus en ontleding by gemeentes te kry.

Spesiale uitgawe: e-koerant

Die webskakel hieronder neem jou na die sogenaamde “e-koerant”. Dit wil sê die digitale weergawe van die gedrukte koerant wat hierdie Sondag (omslagdatum 17 April) by julle gemeente sou wees indien ons in eenvoudiger tye geleef het.

  • Kliek op die foto hieronder om die e-koerant te lees. 

Op hierdie punt

  • Bedank ons alle intekenaars vir geduld en begrip vir die feit dat ons nie die papierkoerant kon druk en aflewer nie.
  • Voorsien ons dat hoogstens nog een papieruitgawe (omslagdatum 1 Mei) slegs in digitale formaat beskikbaar sal wees, waarna ons hoop om weer volstoom te hervat met ’n spesiale, dikker post-grendeltyduitgawe van die gedrukte koerant – mits die omstandighede dit toelaat.

Dank en groete

Le Roux Schoeman

Redakteur: Kerkbode

Rig enige navrae na leroux@bmedia.co.za