Hy’t geweet hoe om ’n Christen in die tronk te wees … maar buite?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Nou, hoe hardloop ’n mens met ’n geiser?” vra ek vir Aubrey.

“Dis nie nodig om te hardloop nie, jy haal hom uitmekaar uit en dan vat jy net die koper,” sê hy.

Aubrey Thompson is ’n merkwaardige man met ’n groot storie. Jy sou ’n film oor sy lewe kon maak – met ’n redelik hoë ouderdomsbeperking.

Hy het grootgeword op Worcester, eers by sy ouma en later by sy pa en stiefma. Hy het goed gedoen op skool, veral in rekeningkunde. ’n Klomp planne is gemaak sodat hy na skool kon gaan studeer. Na hy ’n paar opedae by universiteite bygewoon het, was hy meer as ooit gemotiveer om hard te werk sodat hy die nodige punte kon kry om sy droom om ’n rekenmeester te word moontlik te maak.

Aubrey se matriekuitslae was goed, maar oornag het alles verander. Sy stiefma het hom ingelig dat daar skielik geen geld vir studeer is nie. Hy moet ’n werk gaan soek soos al die ander mense, het sy gesê.

Die teleurstelling was oorweldigend.

“Oor ’n simpel ding soos daai het ek heeltemal rebellious begin raak,” sê Aubrey. “Ek het gevoel ek het nou skielik geen toekoms meer nie. Op skool het ek nie eens sigarette gerook nie, maar nou het ek saam met verkeerde vriende begin uithang en party en alles begin doen wat ek nooit voorheen sou doen nie.”

Jaco Strydom skryf ’n gereelde rubriek vir Kerkbode.

Hy het werk gekry by ’n supermark en in die aande en oor naweke erg begin drink en kort daarna betrokke geraak by dwelms.

“Het jy baie tik gebruik?” vra ek.

“Sjo! Ek was heavy verslaaf,” sê hy.

“Jy doen ook nooit iets half nie,” sê ek en Aubrey lag.

“Ek het altyd voluit gegaan!”

Hy het hard geswot op skool, uitgeblink in sport, voluit dwelms gebruik en toe hy die dag by misdaad betrokke raak, doen hy dit ook ordentlik, hy was gou ’n ekspert.

Aanvanklik was dit net huisbraak – waar hy die koper uit geisers gesteel het. “Maar my specialty was eintlik bedrog,” sê Aubrey. Kort daarna het hy van die groot kettingwinkels begin beroof.

Aubrey is ’n paar keer gevang. Vir die volgende paar jaar was hy in en uit polisieselle en selfs nou en dan vir kort rukkies in die tronk, meeste van die tyd onder ’n skuilnaam. Tussenin het hy op straat gebly en al meer dwelms gebruik.

Op ’n dag begin alles verkeerd loop. Aubrey word weer gevang, ’n polisieman sit al die drade van sy vorige misdade bymekaar en hy word gevonnis tot ’n paar jaar tronkstraf in Pollsmoor.

PODSENDING: Luister na ’n gesprek tussen Jaco Strydom en Aubrey Thompson  

Aubrey sê hy was finaal moedeloos, hy het homself probeer ophang met ’n rekenaarkabel, maar die kabel het gebreek. Nog ’n mislukking.

Die tronk was oorvol, met die gevolg dat hy in ’n erg vreemde tronksel beland het genaamd die “brother-kamer”. ’n Klomp mans wat in die tronk tot bekering gekom het, was saam toegesluit in die sel. Dit was ’n eienaardige plek vir ’n tronk, sê Aubrey. Rook was byvoorbeeld verbode en niemand het dagga gesmokkel nie.

Die eerste aand het die leier van die kamer, wat vir meer as twintig jaar tronkstraf gevonnis is, sy storie vir Aubrey vertel.

Aubrey was verstom. Hy het gedink, as die Here ’n moordenaar kan verander, is daar dalk ook hoop vir hom. Hulle het begin saam bid en begin Bybellees.

Nog ’n ding wat Aubrey verbaas het, was die groep vrywilligers uit gemeentes wat gereeld besoek afgelê het.

“Hoe kan hierdie mense hulle huishouding verlaat vir ’n klomp ouens in die tronk, met hulle praat en na hulle luister? En hulle was genuine! Ek kon sien hierdie mense glo rêrig, daar was iets in hulle wat ek nie kan beskryf met woorde nie, iets wat vir my nie bestaan het nie, hierdie groot liefde.”

Aubrey sê hy was eintlik bang om ’n paar jaar later vrygelaat te word. Veral bang vir homself. Hy het vir die geestelike werker gesê hy weet hoe om ’n Christen te wees in die tronk, maar hy weet nie hoe om een te wees daar buite nie.

Na die tronk maak hy kontak met Colleen Pietersen by TLC Outreach Projects wat straatmense help in Table View in Kaapstad. Sy het gesê sy ken ’n dominee wat haar ’n guns skuld en so ontmoet Aubrey vir Niel Steyn, wat as dominee gekoppel is by twee NG gemeentes in Table View en Bloubergstrand en tans ons Echohuise in die Kaap bestuur.

Niel het aanvanklik gesê Aubrey kan net ’n maand bly, want hy was eintlik te oud vir die huis vir naskoolse jongmense.

“Aan die begin was ek bang om eerlik te wees oor my verlede, maar een aand vertel ek vir Bushy en Ashmal, wat saam met my gebly het, ek kom uit die tronk en uit dwelms en in plaas van die resentment en rejection wat ek verwag het, kry ek net liefde. Ek was so verbaas,” vertel Aubrey.

’n Paar jaar later trou Niel vir Aubrey en Sharon, ’n hulp-maatskaplike werker (social auxiliary worker) wat hy by TLC ontmoet het. Sien, everything ís connected!

Aubrey sê Niel, wat heelwat jonger is as hy, voel soos ’n ouer broer. Hy kan hom met alles vertrou. Vandag is hulle saam in die bediening.

Die laaste paar jaar woon Aubrey en Sharon as mentors in ’n huis vir jongmense in nood in Table View. Hulle werk albei vir ’n besigheid wat Bushy, een van die inwoners in die eerste huis waar Aubrey gewoon het, begin het. Hulle jongste seuntjie Timothy is ’n paar weke gelede gebore.

Aubrey sê sy gunstelingvers in die Bybel is 2 Korintiërs 5:17: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

One thought on “Hy’t geweet hoe om ’n Christen in die tronk te wees … maar buite?

  1. Estorita Fesanie says:

    I am Aubery’s cousin from his father side…while I was reading this my tears start rolling and I remember the time that he talked about…like he said it was hectic…my husband and I always talked about him,worried if he was safe,until that one day we received a letter from prisoner….wondered who could this person be…until my husband connected the dots cause this person was using an alias..as we waited for our turn at the prison,I started too worry and felt scared of what to expect too see..when he walked towards us my heart almost stopped cause I did not expect this person coming towards me…he was looking so good,healthy amd all I could do is to thank God for what I see right infront of my eyes….tears were flowing inside my heart cause my husband asked me not too cry infront of Aubery….it will break his spirit…and eish..I tried too hide that tears of joy…seeing my cousin/brother for the first time since the last time we had an encounter…we were always close…cause we were all living with our grandmother….we were never just cousins….oir granny taught us that we are brothers and sisters.we share the same blood…I know it is a very long comment but I just had too…I AM SO PROUD OF AUBERY….WHENEVER I SEE HIM,TEARS ALWAYS WANTS TO ROLL CAUSE I KNOW THE ROAD HE HAS BEEN ON…as for his wife…I could not have ask the Lord for a better wife for him…I owe that lafy soooo much gratitude for what she did for him….the love she has for him are always showing in her eyes and all over her face….THANK YOU MAKHOTI THANK YOU JESUS FOR ALL THE GREAT YOU HAVE DONE!!!!!let me stop there cause otherwise this gonna be a veryyyyyyy long comment

Comments are closed.