Intekenaars: Jongste inligting oor Kerkbode

Geagte Kerkbode-intekenaar

Dit is onsekere tye en ons wil nie voorgee dat ons om die volgende draai in die pad kan sien nie. As redaksie wil ons fokus op die goed waaroor ons beheer het. Dit is:

  • Om Kerkbode-stories in hierdie tyd so vindbaar moontlik te maak, wat noodwendig beteken om selfs meer digitaal-gerig te wees as in die onlangse verlede.
  • Om na terugvoer van intekenaars te luister.

Lees ook: Kerkbode: Wie lees waar?

Een van Kerkbode se unieke uitdagings is dat eredienste by kerkgeboue in die meeste gevalle die belangrikste verspreidingpunt van nuus in die gedrukte formaat is. Vir ons om nou gewoon die volle koerantoplaag te laat druk en by gemeentes af te lewer, plaas ’n onredelike druk op julle om ’n manier rondom die verbod op samekomste te vind.

Beste alternatiewe

Ons werk onverpoosd aan die skryf van stories en die digitale publisering van nuus, opinies en lesersbydraes. Daar is vier opsies om Kerkbode-inhoud in die hande te kry. Twee van daardie opsies is nuut en ons wil julle aandag graag daarop vestig.

  1. Kerkbode se digitale platform. Dit is waar die meeste mense ons stories lees. Besoek gereeld hierdie platform – www.kerkbode.co.za – of gaan “like” ons Facebookbladsy indien jy verkies om via sosiale media jou nuus te ontvang:
  2. Die Kerkbodeapp is vir Apple– en Android-fone beskikbaar.
  3. Die e-Kerkbode … Hy lyk soos ’n koerant en hy blaai soos ’n koerant, maar jy kan nie jou braairooster met hom skoonmaak nie. Dit is die sogenaamde e-koerant of pdf-koerant. By dié SKAKEL lê die twee mees onlangse uitgawes. Die nuwe uitgawes sal ook daar verskyn, so hou gerus daardie skakel iewers byderhand:

Hierbo is ’n skermgreep van hoe die blaaie in daardie formaat lyk. Kliek daarop om te kan inzoem en te kan lees.

4. Ons weet hoe lief Suid-Afrikaners vir WhatsApp is en dat vele verkies om ook nuus sommer daarlangs te lees. So ons het die twee mees onlangse e-koerantuitgawes verpak in ’n formaat wat via hierdie platform gestuur kan word. Die dokument is 5 MB groot, met ander woorde ’n bietjie groter as foto’s, maar ’n bietjie kleiner as video indien jy bedag is op data-implikasies vir die gebruiker / ontvanger. Laai ’n voorbeeld HIER af. 

Kortom

Ons wil jou help om Kerkbode-inhoud in die mees gerieflike en praktiese formaat te kan lees en versprei in jou gemeente sodat lesers wat nie die papierkoerant kan kom optel nie, nie uitmis op nuus, ontleding en die gewilde vakatures-afdeling nie.

  • Intekenaars met navrae kan gerus ’n e-pos stuur aan Viona Ross of Jeanne van Niekerk by viona@tydskrifte.co.za of jeanne@tydskrifte.co.za.