Weens wêreldwye reisbeperkings is ’n dominee van Limpopo die afgelope elf weke in Viëtnam gestrand.
Ds Danie Ueckermann moes al deur sy verlof en langverlof werk, maar het aan Kerkbode vertel dat sy kerkraad by Nylstroom-Oos-gemeente in Modimolle baie ondersteunend in dié ongewone situasie is.
Intussen trek Ueckermann se kollega in Suid-Afrika maar effe swaar so sonder kollega. “Ek mis my kollega. Ons het ’n goeie verhouding. Hy is ’n baie gemaklike mens, so hy laat beslis ’n leemte in die gemeente (van sowat 1 350 lidmate),” vertel ds Ewald Schmidt.
Ueckermann en sy vrou Marietha het op 3 Maart na Viëtnam vertrek om vir hulle dogter, Madia, te gaan kuier waar sy sedert verlede jaar as Engels-onderwyser werk. Toe die egpaar op 16 Maart van die beoogde grendeltyd in Suid-Afrika hoor, het hulle besef dat hulle hulle terugvlug op 31 Maart sal moet vervroeg. Na baie kommunikasieuitdagings met Qatar lugdiens het hulle op 23 Maart verneem dat die vroegste terugvlug vanuit Viëtnam op 30 Maart vanaf Saigon was. Hulle het dadelik binnelandse vlugkaartjies gekoop om op 29 Maart vanaf Danang na Saigon te vlieg. Maar op 28 Maart het hulle op Qatar lugdiens se webtuiste gesien dat die vlug van Doha na Johannesburg gekanselleer is. Hulle sou in Doha gestrand wees indien hulle op 30 Maart vanaf Saigon na Doha sou vlieg. Ueckermann vertel dat hulle die besluit geneem het om eerder in Madia se woonstel in Viëtnam gestrand te wees as op die lughawe of noodblyplek in Doha wat baie duurder vir hulle sou uitwerk.
Die onvoorsiene weke in Viëtnam is darem nie net ongerief nie, sê Ueckermann. Die geluk by die ongeluk is dat hulle reeds onder andere die wonderskone Halongbaai, Hoi An en Hanoi, die hoofstad van Viëtnam, kon besoek. Hulle het selfs die blaaie van Huisgenoot gehaal, wat op 8 April oor die egpaar berig het. Die Ueckermanns hoop dat Qatar hulle vlugte tussen Viëtnam en Suid-Afrika op 1 Junie sal hervat.

Danie en Marietha is hopelik more (27e Mei) op ‘n vliegtuig op pad terug huis toe. En ja, dit sal lekker wees om hom weer terug in die gemeente te hê.
Ons het intussen gehoor dat hulle wel op 27/28 Mei ‘n vlug gaan kry SA toe. Ons is baie dankbaar want ons mis hulle so baie. Mag die HERE julle veilig hier laat land
Ons mis hulle so baie. Ons is so dankbaar dat hulle moontlik binnekort terug sal wees. Maar ons is so geseënd met Ewald wat ons as gemeente so ondersteun.