Dit is weliswaar nog ’n bietjie vroeg vir Kersgeskenke koop, maar Kerkbode se Kersfondsspan is reeds aan ’t woeker met ’n plan om lidmate vanjaar in staat te stel om ’n “geestelike geskenk” direk aan ’n kind te gee.
Die idee is eenvoudig, vertel Hannelie Matthee, finansiële bestuurder en donateur-skakelpersoon by Bybel-Media (BM) op Wellington, met wie Kerkbode kragte saamsnoer vir hierdie projek. “Ons noem dit KinderKersKous vol BybelBoeke. BM wil kinders en jongmense bederf met geestelike boeke wat ons sal aflewer by kinderhuise en skole in die nuwe jaar (2021).”
Lees HIER meer oor die projek.
Die ontwikkeling en versending van hierdie spreekwoordelike geskenk-“kouse” word moontlik gemaak deur afsonderlike donateurs en gemeentes wat die projek ondersteun. Dit is Kinderbybel-stories, Bybelaktiwiteitsboeke en ander opvoedkundige boeke, verduidelik dr Nico Simpson, die nuwe hoof- uitvoerende beampte van BM.

Kerkbode-lesers ondersteun jaarliks op ruimhartige wyse die Kersfonds. In 2019 het ses individue, een sinode en 30 gemeentes bydraes gelewer en is ’n bedrag van altesaam R158 705,35 ingesamel. Vanjaar sal Kerkbode steeds werk met haar amptelike lys van begunstigdes om te verseker dat ook daardie instellings en die kinders wat daar woon op die geskenklys bly en kan baat vind by die leesstof en besighouboeke.
