Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Kerkbode: Boodskap aan lesers en ondersteuners


Geagte intekenaar

Die Kerkbode-span deel graag met jou ’n oorsig van 2020 en ons plan vir 2021 en maak staat op jou voortgesette ondersteuning van ons joernalistieke projek.

2020: Oorsig en pleidooi aan intekenaars

Hierdie is ’n asseblief-brief met ’n dankie-boodskap.

Ons is elke betalende Kerkbode-leser vanjaar selfs meer dank verskul­dig as in gewone (pandemielose!) ja­re. Ek praat nou van jare waarin die rolpers heeljaar kan loop en waarin ons groot afsetpunt, eredienste, nie landwyd deur noodwetgewing ontwrig word nie … Dit was inderdaad ’n jaar waarin ons gewoon moes staatmaak op die vertroue wat lesers, gemeentes en ander kerkstrukture plaas in ons nuusinsameling én -verspreiding.

Kerkbode: ’n Joernalistieke projek

Ja, daar was enkele gemeentes wat diep in die grendeltyd laat weet het hulle kan nie meer hulle intekening bekostig nie. Ons het begrip daarvoor. Trouens, dit beklemtoon vir ons die doelbewuste begrotingsproses wat hierdie moeilike tye sonder twyfel by soveel van ons oorblywende intekenaars noodsaak ten einde steeds ’n belegging te kan maak in ons kerkjoernalistieke projek. Want dit is presies wat jou intekening in hierdie stadium is. Ons het al heelwat in Kerkbode se blaaie oop kaar­te gespeel oor die tendense in die gedrukte media in Suid-Afrika. Kerkbode se gedrukte intekenaartal val al vir meer as ’n dekade. Ons sien nie ’n einde aan daardie tendens nie. Inteen­deel, ons sien, oor ’n paar jaar, die eindpunt van die gedrukte weergawe van Kerkbode. Intussen groei ons digitaal. Veral tydens die grendeltyd. Teen die einde van Oktober het die aantal klieks op Kerkbode-stories by 950 000 gestaan, gemeet sedert 1 Januarie. Is dit baie of min, mag jy vra? Dit is sowat 350 000 meer klieks as wat ons stories in die hele 2017 gekry het, as voorbeeld.

Subskripsie as ‘subsidie’

Kerkbode se sakestorie en pleidooi aan intekenaars is dus eenvoudig: Ons groei goed waar ons nog nie ge­noeg geld maak om volhoubaar te wees nie: Dit is nou op www.kerkbode.co.za en die gratis Kerkbode-apps vir Android- en Apple-fone. Ons di­gi­tale inkomstestrome is wel aan die toeneem deur aanlynadverten­sie­veldtogte, maar die geld wat gemeentes vir die papierkoerant betaal, is steeds die penwortel van ons projek. Jou subskripsie op Kerkbode “bedien” dus nie net ’n groep mense wat hou van ink op hulle vingers nie, maar ook die omvangryke en noodsaaklike digitale oorgang waarmee ons die afgelope jare by Kerkbode besig is.

Kliek hier om in te teken.

En nou vir 2021

Fokus: Uit die duisende digitale voetspore wat lesers se muise op www.kerkbode.co.za laat, weet ons wat gewild is: Lesers se opinies by Briewe. Die jongste skuiwe en geleenthede by Vakatures. Nadia Marais se kopstukke by Rubrieke en Dana Snyman se stories … Asook die vele ander bydraes deur ’n uitgelese groep medewerkers wat alles doen van boeke resenseer tot doodsberigte skryf. Ons hou by daardie inhoudsresep – altyd in balans met die kerknuusagenda van die dag – en verbeter daarop deur joernalistieke toewyding en vernuf op die voorgrond te probeer stel.

Samewerking: Ons uitgewer, Bybel-Media, is eweneens in ’n digi­tale transformasieproses. Van ons gaan dit verg om nader aan mekaar om die vuur te sit: LiG en Kerkbode se spanne gaan heelwat nouer saamwerk. Ons glo ons kan leer by mekaar en ook in die proses nuwe lesers vind en ons bestaande gehoor aan nuwe gehalte-inhoud bekendstel.

Deursigtigheid: Ons doel met skry­wes soos hierdie en nog vele soort­­gelyke stukke op www.kerkbode.co.za is om duidelik te kommunikeer oor waar ons as kerkpublikasie ons bevind op ons eie volhoubaarheidsreis binne die groter kommunikasie-ekosisteem van die NG Kerk en Christen-media in die land. Hoe ons die afname in markhonger vir gedrukte produkte beleef en interpreteer en hoe dit ons benadering tot ons werk raak.

As ’n mens dit in geloofstaal moet stel, is ons toenemend platform-agnosties: Ons glo in ons stories, maar ons is onseker oor welke platform op die langtermyn ons met die meeste lesers gaan verbind. Ons vat dit stap vir stap en nooi jou saam op die reis.

Vir enkel- of gemeente­na­vrae, kontak Viona Ross by: Tel: 021 864 8278, e-pos: viona@tydskrifte.co.za


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Kerkbode: Boodskap aan lesers en ondersteuners”

  1. ‘n Wye verskeidenheid interessante leesstof en goeie joernalistiek het die afgelope jaar se Kerkbode gekenmerk en ‘n plesier gemaak om te lees. Dankie aan ‘n span wat onder moeilike omstandighede ‘n puik koerant gelewer het.
    Vida Schoeman

  2. Muller Oosthuizen

    Die voortbestaan van Kerkbode – om beide goeie teologiese en populêre geestelike gesprek te bevorder – is van kritiese belang vir die voortbestaan van die Christelike godsdiens in Afrikaanse geledere.
    Kerklike leierskap moet aangemoedig word om te herbesin oor die NG Kerk se getuienistaak en die toerusting en inligting van Afrikaanssprekendes.
    Lidmate van die NG Kerk moet beslis ook in plaaslike gemeentes gelei word om Kerkbode te lees en te ondersteun.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.