Baie gemeentes het kommer en vrae oor hoe kerkwees gaan lyk in die toekoms ná Covid-19 en die onlangse plundertogte. ’n Bekende sakeleier, ’n politieke leier asook ’n teoloog het vandeesweek hulle insigte gedeel oor hoe kerkleiers en lidmate die uitdagings kan benader.
“Dit is ’n nuwe era waar ons inbeweeg. Dit is tyd om te ‘stop en reset’ – dis hoe dramaties die veranderinge in die makro-omgewing ons gedrag beïnvloed,” sê die skrywer en motiveringspreker Brand Pretorius. Hy is bekend as die sakeleier wat as uitvoerende hoof van McCarthy Motors die maatskappy in die laat 1990’s van tegniese bankrotskap gered het en binne drie jaar in ’n gesonde finansiële posisie kon herstel. Hy is ook ’n uitgesproke Christen.
LEES OOK: Lidmaat deel sy geloofsles uit Covid-19
Pretorius, tesame met emeritus-professor Fika Janse van Rensburg en dr Mangosuthu Buthelezi, stigter en president van die Inkatha Vryheidsparty, het vandeesweek deelgeneem aan ’n aanlyn konferensie getiteld: “Gaan kerkwees nog dieselfde wees, ná Covid?”

Naby 500 mense het geregistreer vir die virtuele geleentheid aangebied deur Kairos Netwerk, ’n groep bestaande uit “huidige en gewese NG lidmate, gemeentes, ringe en streeksinodes en ander geloofsgenote,” luidens hulle webblad, wat nie saamstem met die 2019-besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings nie.
Janse van Rensburg het gesê prediking moet lidmate toerusting gee hoe om die uitdagings van hulle nuwe werklikhede te hanteer soos werk van die huis af en spanning tuis waar dit al meer gebeur dat verskeie geslagte saamwoon. “Mense onderskat die toerusting wat kom uit toepassing van die Woord,” sê dié voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit.
Hy het ook benadruk hoe groot mense se behoefte aan waardering is. Daarom is dit belangrik dat enige boodskappe met integriteit oorgedra word, hetsy dit die leraar se boodskap of selfs ’n lidmaat is wat iemand wil bemoedig op sosiale media.
“Vermy die stuur van ’n verpakte boodskap wat al herhaaldelik aangestuur is. Gee liewer boodskappe uit jou hart al is dit hortend en stotterend. Moenie die waarde onderskat van ’n stemboodskap nie,” sê Janse van Rensburg.
Buthelezi (92) het gesê die onlangse chaotiese plundertogte het hom skaam gemaak, maar dit het hom ook hoop gegee dat daar duisende mense was wat bereid was om deurnag wag te staan en saam te werk om hulle gemeenskappe te beveilig. Solank daar nog mense is wat die moed het om te doen wat reg is, het hy hoop. “Hoop is noodsaaklik om ons aan die gang te hou,” sê hy.
LEES OOK: 10 Lesse ná ’n jaar van Covid-19
Hy vrees ook die kerk is gerelegeer tot ’n welsynsorganisasie wat kospakkies uitdeel en hulpverlening bied aan hulpbehoewendes. “Staan op!” is sy boodskap aan die kerk, “die kerk het die gesag om haar uit te spreek teen onreg en te praat namens dié wat verdruk word.”
Pretorius het vertel sy destydse prioriteit by McCarthy Motors was om op minder goed te fokus – slegs dit wat nodig was om die maatskappy reg te ruk. Tweedens was om sy span “met hoop te voed” deur klem te plaas op elke klein bewys van vordering.
In hierdie proses is kwaliteit leierskap, konserwatiewe finansiële besteding en ’n diensoriëntasie deurgaans van sleutelbelang, sê Pretorius. Hy het ook te kenne gegee dat die bestuur van ’n besigheid heeltemal anders is as die bestuur van ’n gemeente, “want julle is met ewigheidswerk besig”.
Dr Anton Knoetze, die aanbieder, het Pretorius se lesse as volg opgesom: “Ons moenie bang wees nie. Ons moet skeppend wees, want dit is ’n nuwe omgewing. Dit beteken ons kan nie dieselfde resepte aanhou herhaal in ’n nuwe omgewing nie, maar wat nie verander nie is ons waardes en beginselfondasies – ons moet voortgaan om dit uit te leef.”
