Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lidmaat deel sy geloofs­les uit Covid-19

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Hennie Bernhardt, NG lidmaat van Dalpark, Brakpan, skryf:

As Covid-19 op hierdie stadium my enigiets geleer het, dan is dit dat ons as Christene baie beslis meer verantwoordelikheid vir ons Chris­tenskap sal moet begin neem – meer selfstandigheid sal moet begin openbaar in ons optrede, en dit nie alles aan die predikante en ander geestelike werkers oorlaat om die geestelike letsels van Covid te hanteer nie; dat ons almal wat onsself Christene noem en sê “ons glo”, sal saamwerk om mekaar en ons gemeenskap te ondersteun – nie net in fisiese behoeftes nie, maar veral in ons geestelike behoeftes in hierdie tyd van ongekende trauma.

Die meeste van ons is al dekades lank elke Sondag in die kerk (of miskien nie elke Sondag nie). Ons geestelike bene behoort al sterk genoeg te wees om da­rem ’n bietjie op hulle eie te kan staan. Wat maak die dominee se bene dan so sterk? Dit is nie ’n geheim nie, dit is geloof in God.

LEES OOK: Kyk: Hoe gemeentes en lidmate KZN en Gauteng weer herbou

Dit is dan ook in hierdie tyd dat ons weer sal moet kyk na wat geloof is, geloof in God, bedoel ek. Is dit daardie iets waarin ek begin twyfel sodra dinge begin skeefloop, begin vra ‘waar is God dan nou?’, begin vra ‘Here, stuur asseblief u Gees’, ‘Here, wees ons genadig’, ‘Here, gee ons hoop’? Of is dit daardie iets wat ons het, wat sodra die vyand ons laat begin twyfel, ons kan sê: ‘Dan­kie Here dat ek weet U is by my, dankie dat u Gees reeds gestuur is en in ons is, dankie dat ons reeds u genade ontvang het in Christus’.

Covid-19 het my weer laat gaan kyk na wat ek sê as ek die liedjie sing: “… ek gee oor, Heer, ek gee oor aan U”, met ander woorde, as ek sê ek glo. Eerstens, geloof is waar dit alles begin. Ek kan tog nie te kenne gee ek is ’n Christen en die Here by die naam roep en nie glo nie. Telkemale sê die Here se Woord vir ons: “… vir wie in Hom glo”. Hoeveel keer wanneer daar in die Bybel gepraat word oor genade, seën, versorging, oor­winning, ewige lewe, word daar gesê: “… vir wie in Hom glo”?

Wat is geloof? Hebreërs 11:1 sê: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Vers 3 sê dan verder: “Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie” (my beklemtoning). In vers 6 lees ons: “As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Vers 6 in die 2020-vertaling sê dit dalk nog duideliker: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag: Want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat Hom soek.”

LEES OOK: Só werk ‘nuwe’ Vlak 3 + Leiers verwerp aantygings oor perke

Hebreërs 11:1 sê baie duidelik geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop. In die betekenis van die woord “hoop” is daar ’n onsekerheid opgesluit. As ek sê ek hoop iets gaan gebeur, of ek hoop hy sal my help, dan weet ek nie verseker of dit sal gebeur nie. Wanneer ek sê Jesus is my hoop, dan bring ek dadelik geloof in die prentjie in en as ek weet wat geloof is, kan ek mos nie van Jesus praat as my “hoop” nie, want geloof is om seker te wees van dit wat ek hoop. Met die oorwinning van Jesus het Hy sekerlik vir ons weet geword.

Dit is wat geloof in God vir my is, naamlik om te weet, nie om te hoop nie. Die onsekerheid wat in hoop opgesluit is, bestaan nie by God nie. Ek kan sê hoop het vir my weet geword, want Jesus het alle onsekerheid oorwin, ons bevry daarvan – vir dié wat glo. Een ding weet ek vir seker en dit is dat ek nie selfstandigheid in my Christenskap sal bereik as ek by hoop vasgesteek het nie.

Omdat ek glo, kan ek bid: Dankie, Here, dat U van al my “hope” weet, al my drome wat ek droom, ken … Ook weet van al my behoeftes. Dankie dat ek dit alles vir U kan gee en weet dat U sal sorg dat ek net die beste sal ontvang. Here, dankie dat, al is ek siek, ook in hier­die tye van vreemde siektes wat ons bedreig en in ons nood, dit met ons goed gaan want U is by ons en U versorg ons.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top