Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Alle Kerkbode-inhoud sal na afloop van 'n nuwe bewaringsprojek nie net digitaal beskikbaar wees nie, maar dit word ook geïndekseer om soekbaarheid te verhoog, verduidelik dr Andrew Kok van die Kerkargief op Stellenbosch oor dié projek wat in samewerking met Bybel-Media aangepak word. Foto: Le Roux Schoeman

Kerkbode vat hande met argief om skat af te stof

Vanuit ’n kelder langs die Kweekskool aan die wal van die Eersterivier karwei dr Andrew Kok onlangs meer as twintig bokse boeke na ’n klein wit paneelwa bestem vir ’n digitaliseringsfirma in Pretoria.

As bestuurder van die Kerkargief op Stellenbosch is Kok deel van ’n span wat argiefmateriaal, wat vanaf 1655 dateer, bewaar en ook toenemend digitaal beskikbaar moet stel vir die meer as 300 navorsers wat (voor Covid) jaarliks hier kom aanklop.

Lees ook: Info-oorloë in geloofsgemeenskappe

“Een van ons groot versamelings is Kerkbode, wat van 1835 loop tot vandag. Dit is een van ons mees gebruikte versamelings en ons wil dit graag digitaal beskikbaar maak vir mense,” vertel Kok oor ’n nuwe samewerkingsprojek met Bybel-Media.

Die paneelwa, stampvol gepak met ’n volledige stel Kerkbodes, het op 15 Oktober sy bestemming bereik as Fase 1 van die projek. Alle Kerkbode-inhoud sal dus uiteindelik nie net digitaal beskikbaar wees nie, maar dit word ook geïndekseer om soekbaarheid te verhoog. Die doel is om Kerkbode as argiefskat ook vir talle familie- en leunstoelnavorsers te ontsluit. “(Die koerant) vertel eintlik baie stories en dit het ook ’n gemeenskapsdiens verrig. So, ons het ’n wye verskeidenheid van navorsers – vernaam familienavorsers – wat eintlik nog nie die waarde besef nie,” meen Kok. “Verder kry ons baie navrae van gemeentes oor amptelike inligting oor gemeentegrense, afstigting … Dan is dit ons eerste bron,” vertel Kok terwyl hy deur ’n uitgawe blaai van alle Kerkbodes wat in 1959 verskyn het. Die bundel val oop by ’n dubbelbladstorie met die titel “’n Belangrike Godsdienstige Gebeurtenis” wat handel oor ’n jeugsaamtrek op Winklespruit … Daar is ook doodsberigte, kort profiele oor ouderlinge en verslae oor reise op sendingvelde en, natuurlik, die aktuele sake van die dag: Christelike onderwys, politiek en boekresensies asook advertensies uit daardie era. Hoewel hierdie inligting tans beskikbaar is in gedrukte formaat – iewers tussen die ander argivalia wat sowat 5 000 lopende meter se rakspasie beslaan, sal ’n digitale gebruiker voorts die mag van indeksering en soekenjintegnologie kan gebruik om die kerkgeskiedenis te verken. “Ons moet tred hou,” sê Kok en slaan die paneelwa se deurtjies toe, dat die reis na die toekoms kan begin.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top