Info-oorloë in geloofsgemeenskappe

Ook binne kerke en geloofsgemeenskappe woed daar plek-plek digitale info-oorloë. En van die einste digitale vaardighede wat predikers moes aanleer om virtueel te hergroepeer en “oorleef” toe hulle geboue moes sluit om ’n virus uit te hou, word soms hiervoor ingespan.

LEES OOK: Kerkbode: Minder en meer as toeka

Van die terme het nie eens behoorlike Afrikaanse beskrywings nie, omdat dit nog nie lank genoeg in die hoofstroom figureer nie. Maar hier is ’n paar wat die oplettende webgebruikers al waarskynlik ook hier ter plaatse aangetref het:

  • Mash-up-video’s – Die redigering van uiteenlopende video-uittreksels, dikwels met minagting vir konteks of kopiereg van die oorspronklike opnames, om ’n narratief te skep en te “editorialise” rondom ’n punt wat jy met jou eie video wil maak.
  • Data-scraping – Waar jy e-posadresse, foonnommers of ander persoonlike data “skraap” uit ander instellings of maat­skappye se bronne en jou eie nuwe lys daaruit saamstel en dan sonder ontvangerinstemming ’n kommunika­sieveldtog daarmee voer.
  • Doxxing / Cancel Culture – Die naspeur en publikasie van privaat of persoonlike inligting van mense/instellings en die sistematiese publisering daarvan met die doelwit om die persoon of instelling in geheel te ondergrawe of verdag te maak of gewoon in die verleentheid te stel en skade te berokken. Te “cancel”.
  • Fopnuus – Waar die term verstaan word as enige iets op die breë spektrum van disinformasie, wat van gewone misverstand, verby satire/parodie tot doer by doelbewuste propaganda strek. Ook waar onkunde van die gevolge van “onskuldige aksies” (soos aanstuur of “share”) nie ’n sterk verweer is nie. En waar daar ook gelet word op die skep van vals konteks vir stellings en vals konneksies tussen stellings (vals logika as argumentwapentuig).

Prof Stephan Joubert lewer onlangs ’n 90 minuut-lange praatjie en rond dit af met ’n lysie van tien “gebooie” wat hy gebruik om sy eie doen en late (asook vermoedelik dié van sy kollegas by ekerk.org) te rig in hulle gevestigde, grenslose en berekend vloeibare digitale bediening.

As gesoute prediker, spreker en iemand met die ervaring wat sowat 17 jaar se rubriekskryf vir Beeld bied, weet Joubert dat die luisteraar/leser iets catchy aan die einde nodig het. Naas al die konteks en fondasiewerk en struktuur, iets wat selfs die mees aandagafleibare van ons kan saamdra huis toe en later herroep. “Horie, Stephan Joubert praat van dié tien goed …”.

LEES OOK: Bespreek nou: Toergids-dominee hervat pelgrimsreise met LiG-toere

Vir dekades reeds praat mediamense van Content is King. En dit is nie Kerkbode se plek om daardie onttroning aan te pak nie. Maar Lysies is Queen. ’n Lysielose argument het dikwels ’n tawwe tyd as dit kom by die mate waartoe dit werklik grondvat op eerste aanhoor.

So vir diegene wat kies om op indagtige wyse in hierdie nuwe virtuele wêreld te probeer koers hou, is daar veel te leer uit Joubert se lysie.

En vir diegene wat werk in die gevaarlike arena van doelwitgeheiligde middele, is dit waarskynlik onontbeerlik.

Word 'n vriend van Kerkbode