Kerkbode: Minder en meer as toeka

Met ’n onlangse besoek aan Kerkbode se kantoor deel Johannes Froneman ’n paar gemoedelike staaltjies uit sy dae by hierdie publikasie. Die strawwe spertye (die papier­koe­rant het destyds weekliks verskyn), die redaksionele stampe en stote in (nog ’n) komplekse tyd in die NG Kerk se geskie­de­nis. Froneman was assistentredakteur van Kerkbode van 1981-83 en het later as professor in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus gedoseer.

LEES OOK: Word ’n vriend van Kerkbode

Dit is sy indruk dat die kerk se koerant hier op Wellington (nie meer naby die parlement in die Moederstad nie), deesdae letterlik verder van politieke mag en figuurlik minder belangrik is. Dit is waar. Vraag en aanbod is, nes in die gewone ekonomie, sterk kragte in die digitale mediamark. Ons lesers soek deesdae in die eerste plek nuus op hulle slimfone en stel ’n premie op eietydse goed soos psigies veilige ruimtes waar lesers maklik saam kan gesels oor nuusgebeure en nie alleenlik hoef te “luister” na die soort hoofartikels van weleer nie. Koerante oor die algemeen voel na ’n ietwat meer beskeie en dalk meer demokratiese gedoente as met die hoogwatermerk van drukmedia se geld en invloed in ’n pre-internet wêreld. Dit is ook van Kerkbode waar.

LEES OOK: Só kan ons kalm oor die Covid-entstof met mekaar verskil

Tog is daar nuwe sterkpunte en hefbome wat ’n mens kan miskyk wanneer jy slegs deur ’n raam kyk van dinge wat afneem (invloed onder staatsleiers) of verminder (intekenaars op die papierkoerant en advertensie-inkomste). Die rol van data in die moderne nuuskantoor is revolusionêr. Die vermoë om daagliks dop te hou watter stories waar in die land deur hoeveel mense gelees word, is ’n redaksionele kompas waarvan destyds se redaksies slegs kon droom. Om hierdie insette met gebruiklike nuusoordeel en die heersende soort nuus­ortodoksie te versoen, het deel van alledaag­se nuuswerk geword in enige digitale om­gewing.

Dit is nie nou ’n tyd van “so doen ons dit nog altyd” nie. Dit is veral vir kleiner mediamaatskappye in Suid-Afrika eerder ’n tyd van deeglike data-ontleding, vernuwing … en oorlewing.

Word 'n vriend van Kerkbode