Só kan ons kalm oor die Covid-entstof met mekaar verskil

Die reël was altyd jy praat nie oor godsdiens, sport of politiek in beleefde geselskap nie. Vandag voel ’n mens dikwels die Covid-19-entstof kan ook by hierdie lysie ingesluit word. Heléne Meissenheimer hoor by ’n kliniese maatskaplike werker hoe gelowiges gesprekke oor dié onderwerp kan benader sonder dat verhoudings verbrokkel.

Vurige opposisie teen die entstof is geensins uniek aan Suid-Afrika nie. In Kanada, Australië, Frankryk en London* moes die polisie al by massa-anti-entstofbetogings ingryp wat wou handuit ruk. In vergelyking daarmee gaan dit ter plaatse eintlik betreklik rustig – slegs ’n klein anti-vaxxer-groepie het byvoorbeeld onlangs voor Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad plakkate geswaai om hulle teenkanting te wys.

Op sosiale mediaplatforms spreek mense, selfs medici, egter hulle opinies vir of teen inent dikwels kaalvuis uit. Ook gelowiges hou nie terug om mekaar enersyds te beskuldig van die ‘merk van die dier’ kry of andersins as onverskillig te wees met ander se lewe nie.

“Dit wek ongetwyfeld spanning tussen mense. Ek kan nie op enige geldige manier sê of dit spanning tussen lidmate wek nie, maar ek weet vir seker in families en in vriendekringe is dit ’n netelige onderwerp,” sê ds Rudi Swanepoel van Andrew Murray-gemeente in Johannesburg.

LEES OOK: Die kerk en die Covid-19-entstof: Ons is aan mekaar verbind

In sy plattelandse gemeente op Grabouw in die Overberg is die denke oor inenting teen Covid-19 wyd uiteenlopend, vertel ds Donald Gantana, wat in September sy tweede Pfizer-inenting kry. “Ons het jongmense wat die inenting ontvang het vanuit hulle werksituasie, en daar is ander wat die fopnuus glo en versprei (afgesien van die oortreding daaraan gekoppel). Daar is seniors wat met hulle inentingsfoto’s spog en so ander in en buite hulle portuurgroep uitdaag. Dan is daar ander wat erg onseker is en uitstel. Ander weier volstrek, nog ander dui aan dat hulle die Here niksvermoedend vertrou vir hulle beskerming, sonder om die inenting te neem,” sê Gantana.

Self het hy op amper 60 só gedink: “Ek is lief vir my gesin en hulle vir my … daarom nog … tyd met hulle wil spandeer. Maar ek het nie alleen met my gesinslede kontak nie, ek het ook nog ’n verantwoordelikheid teenoor ’n gemeente: om in staat te wees om hulle veilig te bedien, asook om vir my eie welsyn te sorg.”

Die meeste mense in die Bloubergstrand-gemeente is ingeënt, maar sy weet van ’n bejaarde man wat kies om dit nie te doen nie, nie omdat hy daarteen is nie, maar omdat sy kinders hom dan toegang tot die kleinkinders gaan weier, vertel ds Elmarie Dercksen. Daar is ook ’n mediese dokter wat nog onseker is terwyl ’n paar jongeres wat eers huiwerig was intussen tog vir hulle inenting gegaan het.

Hoekom huiwer mense oor inenting?

Die grootste leemte in Suid-Afrika se entstofprogram is ’n gebrek aan behoorlike kommunikasie, meen die gesondheidsjoernalis Mia Malan. As uitvoerende redakteur van die Bhekisisa-sentrum vir gesondheidverslaggewing is sy gedurig besig om inligting oor die entstowwe te kommunikeer. Meer as helfte van diegene wat hulle nie wil laat inent nie, is bloot huiwerig, skat Malan. Dit is ’n kleiner groep wat regtig gekant is teen inenting, sê sy in ’n onlangse onderhoud met Vrye Weekblad.

LEES OOK: Inenting: Jou siening het implikasies vir ander en jou spiritualiteit

Geloof en samesweringsteorieë speel nie ’n groot rol in mense se huiwering om die entstof te neem nie, het ’n derde opname vanjaar deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) bevind. Slegs 4% van die 7 631 mense wat aan die opname deelgeneem het, het dit as redes aangevoer waarom hulle nie sal inent nie. Die opname het bevind hulle huiwering spruit eerder uit vrees vir moontlike newe-effekte en besorgdheid oor die doeltreffendheid van die entstof.

Só praat ons met mekaar

Die vraag om te vra, is hoekom mense nie wil inent nie, sê Hanna Kotze, kliniese maatskaplike werker in Port Elizabeth. Sy stem saam ’n gebrek aan inligting kan ’n rede wees, maar meen meestal is dit meer as dit. Ander, onderliggende redes is moontlik een van die redes hieronder, of ’n kombinasie van al drie.

’n Godsdienstige piëtisme wat wetenskap vermy / met agterdog bejeën:

In gesprek sal dit help om nie in kompetisie te gaan vir die sogenaamde ‘moral high ground’ nie, sê Kotze. Dit kan wyser wees om eerder van die argument weg te tree as jy agterkom dat jou gespreksgenoot ’n onversetlike teenoorgestelde standpunt as jyself het.

Ongeërgde kop-in-die-sand bravado:

Dit sal help om nie die persoon te beskaam nie.

In-groep / buite-groep dinamika:

Waar ons aanvanklik almal ewe verwese voor die aanslag van die virus gestaan het, keer ons nou terug na ’n klassieke ons/hulle-splitsing wat almal ken en mee vertroud is, sê Kotze. Haar raad is:

  • Probeer om nie die splitsing verder te verdiep nie.
  • Erken die onvolmaaktheid van alle oplossings. Spreek jou eie twyfel uit, maar meld dat jy tans die roete neem wat die meeste sin maak vir die toekoms van almal, nie net jouself nie.
  • Ontlont jou eie emosie deur bewustelike visualisering en asemhaling; die emosie verdiep slegs die ons/hulle splitsing.

Die twyfelaars en skeptici:

In gesprek met hierdie groep sou ek dink dit is belangrik om oor genoeg relevante, wetenskaplike feite en inligting te beskik, sê Kotze. (Universiteit Stellenbosch het byvoorbeeld hierdie info-blad – Red.)

Dit is dalk ook meer behulpsaam om persoonlik en tentatief, eerder as vingerwysend versekerd te gesels. “Ek noem byvoorbeeld die oorweldigende emosionele bevryding wat ek gevoel het nadat ek my eerste inenting gekry het (iemand anders het vertel hy het oorstelp begin huil), dat ek die roete neem wat ek glo die beste kans bied om die probleem dat my inkomste en beweging ingeperk is, en my dogter wat ’n aktrise is vir meer as ’n jaar nie op ’n verhoog ’n inkomste kon verdien nie, te herstel,” brei sy verder uit.

Dit help ook om te erken dat medici en wetenskaplikes nog nie die volmaakte antwoord ten opsigte van Covid-19 gevind het nie, maar om verwonderd te wees oor die ongelooflike prestasie in die spoed waarmee hulle die leerkurwe van die afgelope jaar bemeester het – en indien daar sprake is van ’n eksperiment, ons almal deel van die proses is, as die proefgroep of die kontrolegroep. Tans is die intensiewe sorgeenheid-statistiek in die guns van die proefgroep, sluit sy af.

  • Berig aangepas om meer lande in te sluit sedert dit gepubliseer is. Red.
Word 'n vriend van Kerkbode

3 thoughts on “Só kan ons kalm oor die Covid-entstof met mekaar verskil

  1. SF GOUS says:

    Dit sal voorwaar goed wees om die raad van iemand, wat neutraal staan, te plaas.

  2. Ernst Swanepoel says:

    Dankie vir hierdie berig oor inenting of nie. Die hele debakel oor “inenting of nie” is deur die sosiale media aangevuur voordat die feite nagevors is.

    Eerstens kan ons nie meer praat van “entstof” nie want dit is ‘n “inspuiting”. Die oorspronklike “belofte” en vergelyking met polio-entstof, was toe nie waar nie. Trouens dieselfde mense wat ‘n sogenaamde 94% suksesfaktor vir een van die inspuitings beloof het, propageer nou ‘n derde en selfs vierde inspuiting (Dis nie entstof nie).
    Tweedens is die bemarkingsagente van die verskillende “entstowwe” verantwoordelik vir verdere verwarring omdat hulle laboratoria nie ooreenstem oor die agtergrond en selfs die eienskappe van die virus nie.
    Die nuutste mutasie (“variant”) van die virus is glo “immuun” teen enige van die bogenoemde “entstowwe” maar die “vermoede” bestaan dat diegene wat reeds ingespuit is, dalk “minder siek” sal word? (Jy moet eie navorsing doen oor hierdie goed want die sosiale media verkies om mense te stereotipeer wat nie in hulle hoofstroom is nie.)
    Ek is geensins “vir” of “teen” die inentings nie en waardeer daarom die artikel hierbo. Ons het kosbare vriende en familie verloor a.g.v. hierdie Covid-virus. Ek wil tog byvoeg hierbo dat elke persoon fyn moet luister wat sy of haar dokter/spesialis aanbeveel en nie wat “statistieke sê” nie. Ook nie wat die predikant of moderator sê nie.
    Hartlike dank.

  3. Daar is een woordjie wat my opval..maar hy is so groot dat sommige daarvoor skrik … RESPEK
    vir mekaar.

Comments are closed.