Dis genade dat kerk en haar publikasies minder ‘belangrik’ is

In 1981 was hy assistentredakteur van Die Kerkbode en het gewerk vanuit ’n kantoor neffens die Parlementsgebou in Kaapstad. Met ’n onlangse besoek aan Kerkbode se nuwe werkruimte op Wellington vind Johannes Froneman ’n gans ander opset en benade­ring. En ’n omgewing om in tuis te voel.

Ek het vroeg van Kleinmond oorgery vir my afsprake met Francine Prins, redakteur van LiG, en Le Roux Schoeman, redakteur van Kerkbode. Toe gee dit my tyd om te kyk hoe lyk Wellington – veral die terrein van die ou Sendinginstituut, waar Huis Samuel nou ’n blyplek is vir mense wat na die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit kom.

My oupa het meer as ’n eeu gelede hier gestudeer om sendeling te word. Ek weet maar min daarvan en glo die boek Naamdraers van Jesus – Wellington se Donkies sal vir my heelwat inligting gee oor “God se donkies”, soos hierdie die­naars van die Here bekend was. Vandaar ook Donkies se Bos, ’n klipgooi van Huis Samuel en mooi sigbaar deur die nuwe kapel se groot vensters. Daar het die jong voor­nemende sendelinge stil geword; nou doen besoekers aan die sentrum dieselfde.

By ’n nabygeleë huis kom ’n vriendelike ­Derine Piek, be­stuurder van die terrein, uit. Sy vertel entoesiasties wat hulle al gedoen het en beplan. Dit lyk reeds na ’n herlewing.

Langsaan, in die Gawie Hugo-gebou, gesels ek en Francine oor ’n koppie koffie. Sy werk eintlik van die huis af, in lyn met Bybel-Media se Covid-riglyne, maar kom nou en dan in om gedagtes met kollegas te wissel in ’n gedeelde werk­ruimte wat vir Bybel-Media se Inhoudspan ingerig is. Le Roux daag later op en gaan koop vir ons iets te ete by ’n tuis­bedryf. Ook hy het geen vaste kantoor hier in die gebou nie en werk deesdae hoofsaaklik van die huis af.

Ek vertel hulle van die kontras met 1981, toe ek as assistentredakteur van Die Kerkbode (ja, destyds nog met ’n Die) ingeval het. Ons kantore was in die Sinodale Sentrum, bo in Koningin Victoriastraat, oorkant die Tuine van die Parlementsgebou. Ds Tappies Möller, die redakteur, het ’n groot hoekkantoor gehad met ’n mooi uitsig op Tafelberg.

LEES OOK: Word ’n vriend van Kerkbode

Jare gelede is die gebou verkoop en is nou ’n hotel (15 on Orange). Die kerk se mediabedrywig­hede is al ’n ruk op Wellington gesetel, maar onlangs is alles hier op die kampus van die destydse Sendinginstituut saamgetrek. Uit nood­saak, maar dit maak soveel sin.

Die kerk, die NG Kerk, het ’n meer beskeie kerk geword sonder ’n belang­rike gebou in Kaapstad. Die media­bedrywighede is deur die jare op allerlei wyses ge­stroom­lyn. Nou weer weens die impak van Covid-19.

Destyds het Die Kerkbode 53 keer per jaar verskyn, as daar ’n 53e Woensdag was. Totdat ek vir oom Tappies gevra het hoe ek dan verlof gaan neem. Toe skrap ons ’n paar uitgawes en verskyn “net” 50 keer per jaar. Maar dit was natuurlik ’n tyd voor die internet en sosiale media. Trouens, ons het nog nie eens ’n faksmasjien gehad nie! Papier was nog koning.

Kerkbode kom nou slegs 16 keer per jaar in papierformaat uit, maar bereik ’n gemiddeld van 16 000 unieke gebrui­kers per maand, wat altesaam sowat 82 000 keer per maand via www.kerkbode.co.za en die Kerkbode-toep op stories, briewe en opiniestukke kliek.

Waar publikasies nou uit ’n oneindige aantal foto’s kan kies, het ons destyds ’n groen staalliaseerkas gehad met stokou foto’s. Nuwe foto’s is nou en dan per pos ingestuur. In ’n noodgeval (wat dikwels ontstaan het) het ons ’n foto by Die Burger gebedel.

LEES OOK: Vlak 2: Ramaphosa oor nuwe riglyne en NG Kerk oor entstof

Ons moes juis daagliks na Die Burger ry en die dag se drie of vier bladsye aflewer om ingetik en opgemaak te word. Op Woensdae was ek by Die Burger om te sien dat alles pas en die proewe vir oom Tappies te bring, as hy daar was.

Tydens 1982 se Algemene Si­node-sitting in Pretoria (in die nuutge­boude sinodale gebou in Visagiestraat, nou ook reeds lank gelede verkoop) moes ek en kollega Ina van der Linde luister, skryf en ’n paar foto’s neem, wat eers iewers ontwikkel en gedruk moes word. Dan moes ek blaaie opmaak en afdraf na die hoofposkantoor by Kerkplein. As ek die nagpos wou vang, moes ek voor 17:15 daar wees. Die kopie is dan die volgende oggend in Kaapstad by Die Burger afgelewer, geset en opgemaak. Geen ­e-pos, geen elektroniese blad­opmaak, geen slimfone waar­mee foto’s geneem en da­delik gestuur kon word nie.

Terug in Kaapstad het ek en ’n kollega die blaaie gaan kontroleer, dit geproeflees en is die poniekoerant op Die Burger se rolpers gedruk. Volgende week se uitgawe het reeds gewag om ge­voer te word. Gelukkig was daar daardie week nog heelwat stories oor uit die Algemene Sinode. Ander weke was nuus maar skraps.

Die verskil was nie net ’n geval van kantoorakkommodasie en werksom­stan­dighede nie. In daardie jare was die NG Kerk polities belangrik. Daar was ’n verwagting dat die kerk met apartheid moet breek, wat eers later stuk vir stuk gebeur het – nadat die slag gelewer was. Wanneer Die Kerkbode in ’n hoofartikel iets naastenby interessant geskryf het (wat eerlikwaar selde was; oom Tappies wou net rus en vrede hê en het enige omstredenheid noukeurig vermy), het die pers prominent daaroor berig.

Die publisiteit was gegrond op die aanname dat aangesien Die Kerkbode die “amptelike blad” van die NG Kerk was, die hoofartikels besondere gewig gedra het. Maar die Kerkbode het nie namens die kerk gepraat nie. Die blad het wel amptelike berigte gedra, soos beroepe. Die redakteur se stem was maar een stem, dalk ’n prominente een, maar nie “die kerk” s’n nie.

Toe die politieke bestel radikaal ver­ander het, het die kerk én sy blad ’n minder belangrike plek ingeneem. Dit was ’n stuk genade. Ek meen die kerk het so mooi daarby aangepas, verstel en in ’n ander ritme gekom. Ook die Kerkbode het onder verskeie redakteurs, insluitende Neels Jackson, aangepas.

Van hierdie nuwe kerklike “omge­wing” getuig die mooi terrein van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritua­liteit, ver weg van die gedruis van die stad en die gestoei om mag in die Parlement. Weg van beleggings in geboue en selfbelangrikheid.

Daarvan getuig ook LiG, nou ’n glans-kwartaalblad met ’n nuwe sake­model en skerp fokus op aanlyngemeenskap en lesersgetuienisse by lig.christians.co.za … en steeds ’n publikasie om op trots te wees. Daarvan getuig Kerkbode, ’n eietydse publikasie op vele platforms. Die inhoud getuig ook van ’n ander kerk – een waarin vroue, byvoorbeeld, ’n soveel prominenter rol speel. (By die 1982-sinode is vrouediakens toegelaat, maar nog nie vroueleraars nie.) Dit ignoreer uiteraard ook nie die realiteit van ’n kerk wat op grond van verskillende Skrifbeskouings diep verdeeld is nie.

Tog is dit alles ’n omgewing waarin ek my soveel meer tuis voel.

  • Prof Johannes Froneman is ’n emeritusprofessor in joernalistiek en tans buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit. Hy is ook kurator van ’n digitale museum, Mediamense.com.
Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “Dis genade dat kerk en haar publikasies minder ‘belangrik’ is

  1. Evert van Vlastuin says:

    Hierdie is darem ‘n interessante terugblik op ‘n stuk van die kerk se geskiedenis. En die kerk se geskiedenis is maar baie dieselfde as die volk se geskiedenis.

  2. Muller Oosthuizen says:

    Kosbare terugkyk en baie insiggewend in die verloop van die Kerkbode se ontwikkeling!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Ons kommentaarbeleid

Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.