Vriende en vennote | Só kan jy Kerkbode ondersteun

Dit is moeilik om die oorgang waarbinne die nuusmedia is te oordryf. Dit is nie alleen die spoed wat die maag laat draai nie, maar die feit dat jy nie om die draaie kan sien of ’n eindpunt kan voorspel nie.

Van digitale gebruikerskant skuif die leserswaartepunt die afgelope anderhalfdekade van inhoud-via-webblaaier-op-my-desktop na inhoud-ter-enigertyd-via-sosiale-media na slimfoon-app-inhoud en so snel dit voort. Tegelyk skuif die gros lesers stelselmatig van ’n gee-my-alles-gratis-ingesteldheid na ’n meer keurige ek-sal-betaal-vir-gehalte-benadering, met behulp van kulturele kruisbestuiwing deur vermaakdiensplatforms soos Netflix wat op hulle beurt help om ’n digitale betaalkultuur te vestig.

As kerkkoerant in die stal van die uitgewer Bybel-Media het Kerkbode nie spesiale beenskutte teen al die vinnige aflewerings wat digitale ontwrigting afstuur nie.

Ons stryd is om op volhoubare wyse digitale kerkjoernalistiek te lewer. Laasgenoemde is wat ons doen by www.kerkbode.co.za en dit is vir ons bemoedigend om die groei in lesers en aandag op ons webwerf dop te hou.

Die woord “volhoubaar” verwys na ’n eenvoudige maar groot uitdaging: Kan ons die inkomste wat Kerkbode in die vet jare van papierkoerante uit die sakke van intekenaargemeentes gehaal het, verhaal by individuele digitale lesers?

Een strategie daartoe is natuurlik ’n betaalmuur. Vele groot gehalte-koerante kan dobbel daarmee. Daar sal gewoon wiskundig genoeg mense wees wat opdok. Uitstekende niskoerante met inligting wat nêrens anders met vergelykbare kundigheid geskep word nie – én gemis gaan word deur lesers wanneer hulle dit nie meer kry nie – staan ook ’n kans om die betaalmuurboerpot te wen. Maar daar is ook punte te maak teen so ’n besluit. Die beginsel van toeganklikheid en nie-uitsluiting is sekerlik een.

By Kerkbode het ons besluit dat ons alle opsies sal verken voor ons daardie soort toebou oorweeg. Die gevolg van daardie besluit is ’n projek met die naam Vriende van Kerkbode. Sedert Februarie vanjaar maak ons dit daarvolgens vir digitale lesers maklik om ons finansieel te ondersteun.

Met Vriende bedoel ons bloot mense wat waarde heg aan ons algemene benadering tot Kerkbode as joernalistieke projek. Wat verstaan dat die boodskap en boodskapper nie te verwar is nie en dat ’n belegging in ’n nuusdiens, ’n belegging in gesonde kommunikasie is.

As redaksie wil ons dankie sê vir elk van ons Vriende wat tot dusver daad by die woord gevoeg het om te verseker dat die Kerkbode-handelsmerk – in welke formaat – oor ’n dekade of wat die twee-eeu-merk sal bereik.


Hoe werk Vriende van Kerkbode?

Jy het twee maklike opsies om ’n verskil te maak:

  1. Gee ’n maandelikse donasie van R20
  2. Gee ’n jaarlikse bydrae van R240.

Kliek op HIERDIE SKAKEL en volg die eenvoudige instruksies.

Kontak ons gerus by kerkbode@tydskrifte.co.za as jy vrae het of sukkel.

Word 'n vriend van Kerkbode