Bespreek nou: Toergids-dominee hervat pelgrimsreise met LiG-toere

Die Covid-pandemie se omvattende reisbeperkings begin geleidelik verslap en in 2022 span die tydskrif LiG weer saam met ds Marius Greeff om lesers besonderse plekke soos Israel en die Passiespel in Oberammergau in Duitsland te gaan wys. Heléne Meissenheimer het die dominee met rooimiere (in Israel was hy al meer as 25 keer!) gevra oor reis in ’n pandemie, sy gewildste bestemmings en hoeveel lesers sal moet opdok om ‘Op Jesus se voetspore’ te gaan loop.

Kerkbode (KB): Hoe het Covid jou reisbesigheid beïnvloed?

Marius Greeff (MG): Die pandemie was ’n vuurdoop. Toe die Passiespelraad in Mei 2020 aankondig hulle stel dié gewilde optrede, wat vir sowat 400 jaar getrou elke tien jaar in die Duitse dorp Oberammergau aangebied word, met twee jaar uit, het ek besef die Duitsers weet iets. Geen van ons toere kon plaasvind nie. Geen versekering het die pandemie gedek nie. Mense wat klaar betaal het en hulle geld wou terughê, het ons terugbetaal minus ’n bedrag vir die administratiewe kostes wat agente oorsee aftrek. Ongelukkig hoor ek hartseer verhale van mense wat oorsese reise met ander agentskappe bespreek het en glad nie hulle geld kon terugkry nie. Baie mense is ontnugter of baie wantrouig jeens die reisbedryf.

Maar ons het Covid oorleef en ons gaan voort.

KB: Werk dinge nou anders in die vreemde ‘nuwe normaal’?

  • MG: Inenting sal heel waarskynlik een van die vereistes wees om op enige van ons toere saam te gaan. Dit word dus baie sterk aanbeveel.
  • Op hierdie stadium is ’n negatiewe Covid-toets ’n vereiste om na sekere lande in Europa te reis … Maar, teen die tyd van ons vertrekdatum, mag hierdie voorwaardes dalk ook weer verander. Ek wil dus nie verder spekuleer nie. Maar, Europa is besig om meer en meer toeganklik te raak, en die voorwaardes minder. Kwarantyn is nie meer ’n vereiste om Europa of Israel te besoek nie.
  • Versekering: Goeie nuus is dat Covid-dekking nou beskikbaar is vanaf R1 400 vir toerlede tot 69 jaar wat nou registreer op enige van ons toere. Dit beskerm jou deposito en toergelde teen enige moontlike verliese in die geval van kansellasies. Die enigste voorwaarde is dat dit binne 24 uur van betaling van jou deposito en jou registrasie uitgeneem moet word. Dit vervang die groepsversekering wat in elk geval ook ekstra was. Daar is ook versekering beskikbaar vir toerlede bo 70. Meer besonderhede oor laasgenoemde kan van ons kantoor verkry word.

Marius Greeff en sy vrou Janie voor die Dome of the Rock in Jerusalem wat volgens oorlewering gebou is oor die rots waarop God aan Abraham opdrag gegee het om sy een seun te offer. Foto: Verskaf

KB: Hoe pas al die toere in by jou bediening as predikant?

MG: Ek is ’n dominee op Greyton wat vroeg volgende jaar aftree (vandaar volgende jaar se propvol toerprogram!). Al die reise met die toergroepe het tot nou gebeur in my vakansies. Vir my is veral die toere na Israel soos ’n voortsetting van my bediening. Skrifuitleg en musiek vorm deel van die interkerklike toere waar ons Jesus se voetspore in die Heilige Land navolg. Dit is vir baie mense ’n lewensveranderende belewenis … dit is asof hulle nie daarna die land uit hulle lyf kan kry nie. Die goed waarvan jy in die Bybel lees word as ’t ware lewendig en raak deel van jou lewe.

Van my persoonlike hoogtepunte is Getsemane … om daar tussen die 2 000 jaar oue olyfbome te staan uit die tyd van Jesus … so ook die opsionele doopvieringsgeleenthede in die Jordaanrivier … om in die rivier te staan en mense te doop is ’n ongelooflike ‘humbling experience’ wat ek nie lekker kan beskryf nie. Ook die nagmaalgeleentheid by die Tuingraf is ’n heilige oomblik … ’n groot oomblik.

Die hele besoek aan Israel word uiteindelik soos ’n heilige spasie wat jy vir God gee … dit raak regtig soos ’n pelgrimstog wat nooit eindig nie.

Die Covid-pandemie het meegebring dat die bekende Passiespele op die prentjiemooie Duitse dorp Oberammergau in 2020 vir die eerste keer in 400 jaar afgestel is. Die Passiespeleraad het aangekondig die 42ste Passiespele sal in 2022 plaasvind. Foto: Verskaf

KB: Hoe het die toere saam met LiG gebeur?

MG: Ek het in begin 2000 vir wyle Adri-Louise van Renen (2012 Van Renen-Fourie), LiG se voormalige redakteur, gevra of ons saam toere na Israel kan aanbied. Sedertdien gebeur die toere basies elke jaar. Ek het baie goeie kontakte in Israel al opgebou en gebruik die beste Christengids in Israel.

Vir besprekings kontak Marius Greeff op 082 936 3462 of e-pos: greeffm@iafrica.com.

  • Hierdie is ’n promosie-artikel. LiG is Kerkbode se susterpublikasie. Beide word deur Bybel-Media uitgegee.

Oorsig op 2022 se toerplanne:

Toer 1: Passiespeltoer met ’n André Rieu-konsert in Maastricht. 11-20 Julie 2022 (skoolvakansie). Koste: R56 980.

Toer 2: Passiespel met ’n André Rieu-konsert in Maastricht. 26 Julie – 04 Augustus 2022. Koste: R56 980.

Toer 3: Passiespel met ’n boottoer op die Middellandse See. 05-18 Mei 2022. Koste: R54 980 met opsionele verlenging na Oos-Europa tot 21 Mei teen ’n addisionele koste van R24 980.

Toer 4: Passiespel met luukse bootvaart op die pragtige Donau. 13-24 Mei 2022. Koste R59 950.

Toer 5: Passiespel met Oos-Europa.13-21 Mei 2022. Koste R51 890.

Toer 6: Passiespel met Israel.4-12 Augustus 2022. Koste ±R51 890.

Toer 7 & 8: Sakpas-Israeltoerin die Maart 2022-skoolvakansie en ’n argeologietoer daarna wat Israel letterlik van Dan tot by Berseba dek en plekke besoek wat nie op ons gewone Israeltoer besoek word nie. Koste R37 800.

Word 'n vriend van Kerkbode