In 2021 het meer as 360 miljoen Christene wêreldwyd hoë vlakke van vervolging en diskriminasie weens hulle geloof ervaar – dit kom neer op een uit elke sewe Christene.
Dit kom neer op 20 miljoen meer Christene wat vervolging ervaar het as die vorige jaar volgens die nuutste navorsing van die Christelike organisasie Geopende Deure wat in Januarie sy 2022 Wêreldwaarnemingslys (WWL) bekendgestel het. Die lys word jaarliks saamgestel en bevat die top 50 lande waar Christene die meeste vervolging en diskriminasie weens hulle geloof ervaar.
Lees Geopende Deure se verslag oor die 2022 WWL HIER.
Sowat ’n duisend meer Christene het vir hulle geloof gesterf as die vorige jaar. Meer as 6 000 Christene is aangehou (’n styging van 44%). Ses honderd meer kerke is aangeval.
Na die Taliban-oorname in Afganistan verlede jaar het hierdie land met sy veelbewoë oorlogsgeskiedenis nou opgeskuif na die nommer 1 posisie op die lys. Die land vervang Noord-Korea, wat sedert 2002 elke jaar in die topposisie was en nou na die 2de posisie skuif – al het vervolging in dié land ook skerp toegeneem.
Dit kan ’n Christen sy of haar lewe kos om openlik hul geloof te bely in Afganistan aldus die verslag. Taliban-vegters gaan selfs van deur tot deur om Christene te vind. Meeste gelowiges het al gevlug na landelike gebiede of na buurlande, wat almal op die WWL aangedui word as vyandig teenoor Christene.
Drie van die vyf lande waar die mees gewelddadige vervolging plaasvind is egter in Afrika met Nigerië, wat algeheel in die sewende posisie op die WWL is, weereens in die topposisie as die mees gewelddadigste land vir Christene.
Vanjaar se lys skets ’n somber prentjie, sê Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika. “Afganistan se styging tot die topposisie op die Wêreldwaarnemingslys is uiters kommerwekkend. Behalwe vir die ontelbare gevalle van swaarkry wat dit verteenwoordig, stuur dit ook ’n baie duidelike boodskap aan Islamitiese ekstremiste regoor die wêreld dat hulle sonder enige vervolging kan voortgaan met hulle brutale stryd vir invloed.”
Aangesien godsdiensvryheid ’n fondasie skep vir talle ander vryheide meen Leibach dit is van kardinale belang dat in 2022 ’n hernude verbintenis tot menseregte gesien moet word. “In ’n tyd waartydens mondelinge verbintenisse tot menseregte al meer afneem, is die bevordering en beskerming van godsdiensvryheid dringender as ooit tevore,” sê sy.
Lees ook: Taliban se oorname is hartverskeurend
