Vlugtelinge uit Oekraïne: Help ons hoop uitdeel vra sendingorganisasie

Die Christelike hulporganisasie Mission Without Borders berig dat hulle, met behulp van vrywiligers en plaaslike kerke, hoop en omgee met duisende vlugtelinge uit Oekraïne gedeel het.

Mission Without Borders is ’n internasionale Christelike hulporganisasie wat in vennootskap met kerke in Oekraïne, Roemenië en Moldawië help met praktiese bystand soos warm maaltye, kospakkies, klere en veilige skuilplek vir vlugtelinge uit Oekraïne. 

“Ons voorsien sorg, skuiling, kos en klere vir duisende verplaasde vroue, kinders en oues van dae. Ons wys dat ons lief vir hulle is en by hulle staan in hulle tyd van nood. Baie van hulle is alleen en het nie ’n ondersteuningsnetwerk nie. Hulle weet werklik nie waarheen om te gaan nie. Natuurlik het hulle die basiese benodigdhede nodig, maar hulle het ook nodig dat iemand na hulle luister, iemand wat hulle gevoelens erken en iemand om hulle te ondersteun op hulle wandel na ’n nuwe begin,” verduidelik John de Kock van Mission Without Borders se Suid-Afrikaanse tak.

Dit is nou reeds ’n maand en ’n half sedert die oorlog begin het, en moeë Oekraïners is desperaat op soek na hoop vir die toekoms. Mans tussen die ouderdom van 18 en 60 word nie toegelaat om die land te verlaat nie, terwyl vroue en kinders groot afstande moet reis, meestal alleen en te voet in die koue.

“Die grootste lyding wat jy op die mense se gesig sien is die skeiding wat plaasvind tussen die mans en hulle gesinne. Dit breek ’n mens se hart as jy dit sien!” vertel Peter* van Mission Without Borders vanaf die grens met Roemenië.

In die praktyk beteken dit dat hulle personeel en vrywilligers die spreekwoordelike ekstra myl sal loop byvoorbeeld om vlugtelinge te help wat mediese sorg dringend nodig het. Soos die agt kinders met kanker wat saam met hulle ouers in ’n kerk naby die Oekraïnse hoofstad Kiëf skuilplek gesoek het. Mission Without Borders se personeel en vrywilligers het vervoer gereël om die kinders saam met hulle ouers na ’n onkologiekliniek in Pole te vervoer en ook gereël dat die behandeling voortgesit word.

Hierdie blyke van praktiese omgee gee hoop vir dié wat verplaas is.

“Baie dankie vir jou vriendelikheid en toewyding. Vir die eerste keer sedert 24 Februarie 2022 was ons trane dié van dankbaarheid, nie uit vrees nie, toe ons onder die sorg van Sergey in Palanca gekom het,” het ’n Oekraïense vrou gesê na sy in kontak gekom het met Mission without Borders se koördineerder in Palanca in Moldawië.

Baie van die vlugtelinge meld ook aan as vrywilligers, nadat hulle gerus het na die lang reis, en sê dat dit die minste is wat hulle kan doen om hulle dankbaarheid te betuig teenoor dié wat aan hulle vriendelikheid betoon het.

In Oekraïne het plaaslike regeringsamptenare vir die Mission Without Borders-span vertel hulle het versoek dat die mans wat vrywillig betrokke is by die kerke se netwerke, die laaste moet wees wat opgeroep word vir militêre diens – omdat hulle reeds dien as Soldiers of the Second Social Front.

“Ons vertrou dat u saam met ons bemoedig word deur die reaksie van God se mense in hierdie krisis. Bid asseblief saam met ons vir die mense van Oekraïne en alle slagoffers van die oorlog. Mag ons almal streef om sy hande en voete op aarde te wees. Dit is wonderlik om te weet dat God ons gebede en hulpbronne gebruik om dié wat duisende kilometers van ons is, te bereik,” sluit De Kock af.

Só het Mission Without Borders vlugtelinge uit Oekraïne gehelp tot 1 April: 

  • 43 000 mense in Oekraïne het noodlenigingshulp ontvang. Onder meer is 2 000 voedselpakkies na die besette gebied in die ooste van Oekraïne gestuur.
  • In Moldawië het 25 000 vlugtelinge hulp ontvang en word ten minste 2 000 maaltye daagliks bedien. Skuiling is aan 4 500 mense gebied.
  • In Roemenië is 50 000 maaltye bedien en 11 000 hulppakkies met kos en higiëniese produkte is versprei. Huisvesting is gereel vir 4 500 vlugtelinge.

As jy die werk van Mission Without Borders in Oekraïne wil ondersteun, gaan na www.mwb-sa.org om meer te wete te kom of kontak John de Kock by 082 774 8529 of e-pos hom by jdekock@mwbi.org.

*Mission Without Borders noem slegs name sonder vanne om sekuriteitsredes.

Word 'n vriend van Kerkbode