Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oudleraar vertel oor depressie: Die kuns wat hy in die eerste paar jaar geskep het, was soms wanstaltig en ontstellend vir die kyker. Dit verbeeld iets van die worsteling waarin hy verkeer het uit. Nou stal hy weer kuns uit. En die prentjies lyk anders. Foto: Le Roux Schoeman

VIDEO: Kuns bring genesing vir leraar wat sy reis met ander wil deel

Wanneer Fanie Marais sy depressie en uitbranding beskryf, voel dit persoonlik … dit voel na Fanie s’n. Die storie van een dominee iewers in die Boland twintig jaar gelede. Maar wanneer die afgetrede predikant dit skilder, voel dit na gemene goed.

’n Reeks collages van gesigte val die kyker op. Monde wat die tande nie kan binnehou nie. Wange wat nie die oogballe kan bemeester nie. Hoofde oorbedeel met slegte pruike. ’n Oor wat lyk asof hy warm geklap of gedraai is. Basies gesigte wat lyk soos ’n goëlaar wat beheer verloor oor ’n toertjie. As hierdie reeks kunswerke musiek was, en Musica nog bestaan het, sou dit nie onder Easy Listening geval het nie.

 

“’n Pêl van my, hy’t saam met my teologie studeer by Tukkies … hy’t gesê, Fanie, jy het die vermoë om iets van die seer en die stukkendheid van die lewe ook te verbeeld. Ander mense kan blomme, mooi stillewes en natuur, ja, verruklike goed skilder,” verduidelik Fanie onlangs aan Kerkbode. So Fanie het daardie temas vir ’n wyle in die sorg van ander gelaat. Sy kuns was soms “wanstaltig en ontstellend vir die kyker”, verduidelik hy. Dit verbeeld iets van die worsteling waarin hy verkeer het. Die kunswerk “Fraktuur” – sien hieronder – is ’n voorbeeld van sulke kuns, vertel Fanie.

 

Maar Fanie keer ook weldra terug na van die temas wat vir ander beskore is, kan ’n mens sien wanneer hy op ’n onlangse aftreemiddag in sy omskepte motorhuis in Kaapstad se noordelike voorstede die een skildery na die ander van die rakke afhaal en met die besoeker “deurpraat”. Hier ’n Eiffeltoring, daar ’n seetoneel of gewoon ’n mooi gesig. Hier ’n skedel, daar ’n siedende skreeu. Hier ’n donker selfportret van anderkant glimlag. Daar ’n naakstudie van die ouer liggaam in ’n bad.

Fanie het op 60 jaar afgetree om meer tyd aan kuns te bestee. Sy vrou het hom egter aangemoedig om die pastorale hulpleraarspos by Goodwoodparkgemeente te neem. ’n Nuwe fase het gekom toe hy die liefde en warmte van hierdie geloofsgemeenskap ervaar. Meer heilsame kuns het kenmerkend van sy temas geword. ‘n Voorbeeld daarvan is “Laudate Dominum” waar ‘n solis tydens ‘n kerssangdiens sing.

Marais het op ’n hupse 70 nog heelwat dominee in hom. Keurige taalgebruik (“voetangels”!) en so ’n rustige pastorale manier wat daardie beroep soms vereis, selfs by diegene vir wie dit nie natuurlik kom nie. Hy’t ook ’n luister-oor so tussendeur die geoefende handgebare en natuurlike geesdrif vir hierdie ding wat vir hom genesing gebring het toe hy in sy vyftigs weens uitbranding drie maande “ruskans” moes vat waar hy leraar op Wellington was: Kuns. 

Ook ‘n aantal selfportrette skuil tussen die uiteenlopende werk in ds Fanie Marais se volgepakte kunsvertrek.

Een van die dae hou Fanie ’n uitstalling by ’n gemeente hier in Goodwood, waar hy na sy aftrede by Wellington op ’n ander wyse (pastorale hulpleraarspos) betrokke geraak het. Die persverklaring wat hy uitstuur as bemarking daaarvoor omraam netjies die doelwit en ’n mens verbeel jou jy hoor, ná ’n reis met donker temas, het Marais op hierdie punt van die geveg “sy storie” glad en gereed in ’n slinger soos Dawid voor die reus. Só nooi hy ander in: “Iemand het geskryf dat die lewe ons almal breek op ’n manier en dat ons sterker is op daardie plekke waar ons heelword. Dit is wat twee kunstenaars beleef het in hulle lewensgang. Fanie Marais, ’n emerituspredikant, deur skilderkuns en Colin Steyn, ’n boer wat sy plaas en sy vrou verloor het, deur digwerk,” luidens die verklaring vir die “kwas- en digkuns”-geleentheid van hierdie twee kunstenaars wat op Donderdagaand 21 Julie 18:00 in die kerksaal van NG Kerk Goodwoodpark sal plaasvind. (Rolanda Marais en Frieda van den Heever sal van die gedigte bespreek en voorlees. Op 22 Julie 2022 11:00-15:00 sal die kunstenaars beskikbaar wees vir rondleiding en gesprek).

In Fanie Marais se collage-werk is die temas van vervreemding en wanstaltigheid sigbaar. Foto: Le Roux Schoeman

Om die rousmart te verwerk het Steyn hom weer tot digwerk gewend. Sy digbundel STAF SONDER MAAT het voortgevloei uit wrede ontnugterings met die verlies van sy plaas en sy lewensmaat.

Ons kyk na van Fanie se meer onlangse werk. ’n Nuwe fase het gekom toe hy die liefde en warmte van die geloofsgemeenskap in Goodwood ervaar het, vertel hy. “Meer heilsame kuns” het nou kenmerkend van sy temas geword. “Laudate Dominum” is ’n voorbeeld, vertel hy. Waar ’n solis tydens ’n Kerssangdiens sing.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “VIDEO: Kuns bring genesing vir leraar wat sy reis met ander wil deel”

Comments are closed.

Scroll to Top