“Ons is baie bewus daarvan dat Covid ’n groot impak op gemeentes gehad het … so ons wil ’n bietjie daarop konsentreer hoe ons gemeentes weer kan hoop gee en toerus om weer kop op te tel en ’n effektiewe rol te speel.”
So sê ds Dirkie van der Spuy, voorsitter van die Sinodale Diensraad* in die NG Kerk se Oostelike Sinode.
Die uitdagings en behoeftes by leraars en gemeentes na afloop van die Covid-pandemie asook die kerk se verhouding met die sinodale streek se kerklike maatskaplike organisasie, Christelike Maatskaplike Raad (CMR) is van die sake gelys vir bespreking wanneer afgevaardigdes van die streeksinode vanaf 1-3 Augustus saamtrek by die kerkkompleks van Pierre van Ryneveld in Centurion.
Verskeie besprekingsessies word ook beplan oor missionale evangelisasie asook die pad vorentoe met verhoudinge tussen ringe en met die Algemene Sinode.
’n Streeksinode is ook verlede jaar in November gehou. Lees hier meer: Oostelike Sinode: Verklaring oor vergadering (17 en 18 November 2021)
By dié tweedag-samekoms is onder meer besluit dat hierdie streeksinode nie bande met die Algemene Sinode sal losmaak nie. Die meer as 200 afgevaardiges het ook ’n taakspan verkies om ondersoek in te stel na maniere om gemeentes te akkommodeer wat ongemaklik is met die Algemene Sinode se 2019-besluit wat ruimte geskep het vir gemeentes om self te besluit oor die hantering van lidmate in selfdegeslagverhoudings.
Dié taakspan bring ’n vorderingsverslag na die komende streeksinodale samekoms in Augustus.
’n Nuwe voorsitter van die Sinodale Diensraad sal ook by hierdie streeksinode verkies word.
* Die Sinodale Diensraad verteenwoordig die kerklike leierskap tussen sinodesittings wat gewoonlik elke vier jaar plaasvind.
** Hou Kerkbode dop vir beriggewing vanuit Centurion in ons Sinodenuusafdeling: https://kerkbode.christians.co.za/category/nuus/sinode/
