Na ’n afwesigheid van ses dekades, het die NG Kerk weer ’n stem op die Wêreldraad van Kerke (WRK) se pasverkose Sentrale Komitee.
Dr Gustav Claassen is een van 150 komiteelede wat Dinsdag 6 September tot diens op hierdie liggaam verkies is tydens die 11de Algemene Vergadering van die WRK.
Met die lig van groen stembriewe is die lede van die komitee “met ’n oorweldigende meerderheid” deur die afgevaardigdes van die 352 lidkerke van die WRK tot hierdie liggaam verkies, berig die Orthodox Times.
Hy sal ’n beter idee van sy verantwoordelikhede vorm wanneer die nuwe komitee Woensdagaand hulle eerste vergadering het, laat hoor Claassen by navraag vanuit Karlsruhe in Duitsland waar ’n NG Kerk-afvaardiging hierdie samekoms van meer as 4 000 gelowiges van regoor die wêreld bywoon.
“Ek is bly vir die kerk se onthalwe. Ons begin ons plek terug vind en vol staan in die wêreldekumene,” voeg hy by. Claassen is ook by hierdie saamtrek gevra om deel te neem aan ’n paneelbespreking rondom rassisme en xenofobie.

Die NG Kerk het in 2016 weer lid van die WRK geword. Net meer as 50 jaar sedert politieke druk meegebring het dat die NG Kerk uit die liggaam bedank het.
Sien ook: Video: Insluiting, gender en ongeregtigheid by WRK bespreek
Dertig van die sentrale komitee se lede is uit Afrika. Ook uit Suider-Afrika, is onder meer Dr Henri Weideman (AGS van Suid-Afrika) ook op die komitee verkies saam met Claassen. Dié komitee sal elke twee jaar vergader tot die volgende Algemene Vergadering van die WRK wat vir 2030 beplan word.
Die komitee se verantwoordelikhede sluit in om toe te sien dat die besluite wat by hierdie vergadering geneem word uitgevoer word.
Later hierdie week sal ’n uitvoerende komitee van 25 persone verkies word.
