Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Johan van der Merwe: ’n Uitdaging aan die NG Kerk vir 2023

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Suid-Afrika is aan flarde, stukkend, gebreek! Byna op elke dorp en in elke stad sien jy dit en ruik jy dit: paaie vol slaggate, mense wat op straathoeke sit en wag vir werk, arm byna kaal kinders wat toeriste omsingel op soek na iets om te eet en rioolvuil wat in strate afloop. Beurtkrag is vir baie byna die laaste strooihalm wat dreig om die spreekwoordelike kameel se rug te breek. Dit terwyl die sogenaamde leiers van die land speletjies met mekaar in die hof speel en ander se gierigheid geen perke het nie! In die kerk veg ons met mekaar oor teologie terwyl miljoene mense in ons land van ellende krepeer.

LEES OOK: Kindersorg: Só kan gemeentes verwonde onderwysstelsel help genees

Tog is daar in die stukkende dorpe ook simbole van hoop – kerkgeboue en kerkterreine wat netjies in stand gehou word. Stille getuies van die feit dat die kerk nog daar is. In groter stadsgemeentes word gemeenskappe selfs genooi om tydens beurtkrag en kragonderbrekings selfone en skootrekenaars te kom laai en gratis van die internet gebruik te maak. So word kerke oases van hoop teen groter wordende wanhoop.

Maar hierin lê die uitdaging aan gemeentes in 2023. Om nie net fisies simbole van hoop te wees nie, maar ook teologies weer op ’n seisoen van hoop te besluit – om dit so te verkondig dat lidmate dit in elke dorp en stad in hierdie stukkende land kan gaan leef. Die uitdaging is nie net aan indviduele gemeentes gerig nie, maar ook in die kerk in sy breër verband.

Dit sal die tweede keer wees dat die NG Kerk dit in die gekiedenis doen. Op 28 Januarie 2001 was die kerkgebou van Lynnwoodrif in Pretoria volgepak met die afskop van ’n Jaar van Hoop in die NG Kerk. Die teksvers wat prof Piet Naudé by die geleentheid gebruik het, was Romeine 15:13: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.” Hierdie gebeure was die uitvoering van ’n besluit wat die Algemene Sinodale Kommissie goedgekeur het. Die Jaar van Hoop is op vier temas gebou, naamlik: Bewusmaking van die krisis, die kerk se roeping ten opsigte van morele herstel, armoedeverligting en versoening. Vir ’n jaar lank het hierdie program lidmate bemagtig om hulle roeping in Suid-Afrika op ’n aktuele nuwe manier te aanvaar.

LEES OOK: Armoede: Is die NGK gereed vir die nuwe pandemie?

Die Jaar van Hoop is op 31 Desember 2001 met die lui van kerkklokke formeel afgesluit. Miskien is dit tyd dat die klokke weer ’n slag moet lui om ’n nuwe Jaar van Hoop aan te kondig. Wie is dapper genoeg om die besluit te neem?


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.