Ons lees saam uit Hessie die gelukkige hen. Linda Hendricks skuif voor die klein groepie kinders in – storieboek in die hand – om ’n liefde vir lees aan te wakker in ’n land waarin minder as 20% van graad 4-kinders met begrip kan lees, volgens die 2021-uitslae van die Progress in International Literacy Study.
Hendricks is een van die storievertellers verbonde aan die Little Seeds Eenheid vir Vroeëkinderontwikkeling. Dit is ’n inisiatief van die Wes-Kaapse maatskaplike organisasie Badisa saam met Diaconia, die gesamentlike barmhartigheidsbediening van die NG Kerk en VGK. Die kinders wat so lekker naklank en antwoorde uitroep terwyl Linda voorlees, is deel van sowat 187 kinders hier in Atlantis, halfpad tussen die Weskus en Kaapstad, wat baat by Little Seeds se leesgroepies, vertel Christine Lewis, voorvatter by hierdie kring van storievertellers.
Maar daar is vele soos sy. ’n Totaal van 145 vrywilligers (waaronder onderwysers, ouers, biblioteekpersoneel) oor drie provinsies heen is reeds opgelei om “storievertellers” te word, volgens Badisa se 2022-jaarverslag.
So die berig wat Heléne Meissenheimer vir Kerkbode op Atlantis gaan doen het, is wel enersyds oor die vordering van een kind se leesvermoë danksy die sagte krag van stories. Maar, soos dikwels met hierdie soort beriggewing, gaan dit ook oor ’n veel breër impak. Een wat soos ’n sambreel oopslaan en ’n veel wyer skadu gooi.