Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Albin Bowler, Bellville, skryf: Ds Theo Danzfuzz se brief van 19 Julie 2023 verwys.
Alreeds in die sewentigerjare is in hermeneutiek en eksegese sekere gereformeerde beginsels aan ons voorgehou. Ek vermoed dat hierdie beginsels ook in die sestigerjare toe ds Danzfuzz die kweekskool bygewoon het deur sy dosente vasgelê is.
’n Belangrike beginsel is dat ’n mens nie met die teks op ’n biblisistiese wyse omgaan nie. Dit is wat sommige geestelikes doen wat geen opleiding in teologie, en spesifiek in hermeneutiek en eksegese, ondergaan het nie. Ek verstom my soms hoe sommige predikante binne die gereformeerde geloof die teks op ’n biblisistiese wyse hanteer, asof hulle nooit op kweekskool was nie. Dit impliseer dat die teks ontleed moet word binne sy konteks, maar ook met ander tekste vergelyk word, ens.
LEES OOK: Kerkbode-lesers se bydraes oor die Gay-debat deur die jare
’n Verdere beginsel is dat elke mens met sy/haar eie vooropgesette idees na die teks kyk. Met ander woorde, jy besluit self, sonder deeglike hermeneutiek en eksegese wat kan wees en wat nie. Gevolglik word die teks nie behoorlik ontleed nie. Gewoonlik is dit die gevolg wanneer nuwe interpretasies en inligting ter sprake is. Die siening van “don’t confuse me with the facts, my mind is already made up.” Dit is die gevaar wat ek raaksien en daarom sou ek wou vra:
- Het u ook, soos baie predikante en lidmate, vasgeskop aan die begin toe die beginsel aanvaar is dat dames as ouderlinge verkies kon word, in teenstelling met die “Bybelse teks tot die teendeel”?
- Het u ook, soos baie predikante en lidmate, in 1967 vasgeskop teen prof Chris Barnard se hartoorplantingsoperasie, want kerkleiers het geglo dat Barnard in God se woonplek rondkrap?
- Sou u ook, soos baie predikante en lidmate voor die 1700’s en selfs later, Downsindroomkinders laat doodmaak het, omdat geglo is dat hulle van die duiwel besete is? Dr Lejeune het eers in 1959 die chromosoomanomalie ontdek.
- Sou u ook, soos die destydse kerk in die eerste helfte van die 1600’s, vir Galileo Galilei beskuldig het van kettery en deur die inkwisisie laat vervolg het na sy siening dat die aarde om die son draai?
- Sou u ook, saam met die destydse kerklui, vir Jesus gehaat het, want Hy kom met nuwe sienings oor geloof wat lynreg bots met Skriftekste, byvoorbeeld jy kan op Sabbatdag werk, ens?
Laastens wil ek graag vra of u glo dat tweeslagtigheid bestaan, eintlik ’n kontinuum van volledig tweeslagtig tot baie min tweeslagtig. Daar is geen teks in die Bybel hieroor nie. – Brief verkort. Red.
