Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Gay-debat: Tyd om eerlik te wees

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Neels Jackson skryf: “Daar is nie ’n enkele teks in die Bybel wat gay verhoudinge van liefde en trou veroordeel nie.” Dan sing hy weer die ou deuntjie van die vrou se hoed in die kerk. So word die Bybel se waarskuwing teen homoseks bespotlik gemaak. Eerlike debatvoering is om by die punt te bly en nie maar net jou eie strooipop af te skiet nie.

  • Naasteliefde: Teologiese debat oor gays gaan nie oor naasteliefde of gebrek daaraan nie. As my vrou vir wie ek die meeste liefde en respek het, sondig teen enige gebod van die Here, sê ek nog met groot deernis: Ek is lief vir jou, maar bekeer jou en hou op sondig. Dit was ook Natan se gesindheid toe hy vir Dawid op sy sonde moes wys. Sal ons nou vir Natan beskuldig van gebrek aan naasteliefde? Nee, om gedurig te maak asof behoudendes gebrek aan naasteliefde het, is ’n oneerlike debat. Dit gaan nie daaroor nie.
  • Liefde en trou: Die debat het ook niks te doen met “liefde en trou” of gebrek daaraan nie. Ons kan “in liefde en trou” steeds sondig. Ek ken mense wat “in liefde en trou”, nie net die 7de gebod nie, maar al God se gebooie oortree. Sonde word nie gedefinieer deur die vraag of dit in liefde en trou gedoen word of nie. Sonde is die oortreding van God se Wet. Dit maak nie saak of jy dit in liefde en trou doen of nie. 1 Johannes 3:4 sê: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God.” Spreuke 28:4 sê: “Dié wat die wet verontagsaam, prys goddeloses, maar dié wat die wet nakom, staan hulle teë”. Liefde en trou definieer nie sonde nie.
  • Waar’s jou teks? Neels se redenasie dat daar geen teks is wat gay verhoudings “in liefde en trou” veroordeel nie, ontbreek totaal aan enige logika. Eers as hy ons wys waar in die Bybel daar enige voorbeeld is van so ’n gay verhouding “in liefde en trou” of van so ’n huwelik, tussen twee mans of twee vrouens, kan hy kyk of “liefde en trou” so ’n gruwelike sonde kan wegneem.
  • Inlegkunde: Neels erken darem nou “Daar is wel ’n handvol tekste wat negatief is oor seksuele verkeer tussen mense van dieselfde geslag, …” maar verklaar dit dan weg met eie inlegkunde: “… as ’n mens daardie tekste mooi lees gaan dit omtrent deurgaans oor seksuele verkeer binne die konteks van afgodsdiens”. Hierdie vak “inlegkunde” het ek seker gemis. Selfs ’n kind wat Romeine 1 lees sal weet, Romeine 1 sê homoseks is sonde: “Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit. En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.”
  • Nee, sonde word slegs uitgewis deur vergifnis te soek danksy die bloed van Jesus, nie deur eie liefde en trou nie.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top