Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Neels Jackson skryf: ‘Daar is nie ’n enkele teks (in die Bybel) wat gay verhoudinge van liefde en trou veroordeel nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Neels Jackson van Centurion skryf: AN Olivier maak in sy brief “Gedagtes oor Pride Month” (Kerkbode 30 Junie 2023) die volgende stelling: “Liberale Christene voer aan dat Jesus se kruisdood vir al ons sondes betaal het – en ons nie meer skuldig hoef te voel oor seksuele sondes solank dit niemand benadeel nie.”

Hierdie stelling berus volledig op ’n misverstand.

Terwyl ek my nie tuis voel met die etiket “liberale Christen” nie, is die argument van diegene wat ruimte laat vir gay verhoudinge nie dat mense mag voortgaan met seksuele sondes nie. Die argument is dat liefdevolle en getroue verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag nie sonde is nie, en dat liefdevolle seksuele verkeer in sulke verhoudinge ook nie sonde is nie.

Die argument berus op die Bybel.

LEES OOK: Lees meer oor die gay-debat in die NG Kerk deur die jare

In die Bybel is daar nie ’n enkele teks wat gay verhoudinge van liefde en trou veroordeel nie.

Daar is wel ’n handvol tekste wat negatief is oor seksuele verkeer tussen mense van dieselfde geslag, maar as ’n mens daardie tekste mooi lees gaan dit omtrent deurgaans oor seksuele verkeer binne die konteks van afgodsdiens. Dit is die duidelikste in Romeine 1, en dit geld ook vir die tekste in Levitikus, 1 Korintiërs en 1 Timoteus. In die Sodomverhaal is die konteks nie afgodsdiens nie, maar ’n poging tot bendeverkragting.

Nêrens gaan dit oor seksuele verkeer in getroue en liefdevolle verhoudinge nie.

Die inagneming van die konteks is belangrik. Ons verwag tog nie meer op grond van 1 Korintiers 11 van vroue om hoede te dra kerk toe nie. Ons verstaan mos nou dat die konteks waarin die opdrag daar gegee is dat vroue hulle hoofde moet bedek, heeltemal verskil van die konteks waarin ons leef. Daarom geld daardie opdrag nie in ons konteks nie.

Net so kan die veroordeling van gay seks as deel van afgodsdienstige praktyke nie oorgedra word na gay verhoudings van liefde en trou nie.

LEES OOK: Meer lesersbydraes soos deur die jare oor dié onderwerp in Kerkbode gepubliseer  

Die gedagte dat ’n mens se optrede niemand moet benadeel nie, is ’n sleutelgedagte uit Romeine 13. Daar staan: “Al die gebooie … word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”

As ons glo dat die liefde, wat die naaste geen kwaad aandoen nie, die volle uitvoering van die wet is, is dit nie liefdevolle en getroue gay verhoudinge of die ruimte daarvoor wat sonde is nie, maar die afkeur daarvan. Die verwoesting wat anti-gay vooroordele aanrig in mense se lewe, is uitvoerig geboekstaaf.

Terloops, daar is ook nie sprake daarvan dat Christene wat gay verhoudinge goedkeur, daarmee vir gay mense sê “dat hulle volle uiting aan hulle welluste moet gee,” soos Olivier te kenne gee nie.

Die oproep aan gay mense is dieselfde as dié aan heteroseksuele mense. Moenie onverantwoordelik met jou seksualteit te werk gaan nie. Promiskuïteit is verkeerd. Gebruik jou seksualiteit in ’n permanente en liefdevolle verhouding om uitdrukking te gee aan jou en jou lewensmaat se liefde vir mekaar.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.