Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Alf Olivier van Pretoria skryf: Ek skryf hierdie brief vandag aan almal wat moeg en selfs moedeloos voel oor die twis in ons kerk. Hoeveel gemeentes moet nog soos Tafelberg liewers hulle eie weg kies? Ek wil u terugneem na Handelinge 9:27 en herinner aan die krag van vergifnis en herstel.
Ons lees hier van die ontmoeting van Paulus met die ander dissipels na sy bekering. Toe Paulus in Jerusalem aangekom het was die ander dissipels baie skepties en bang vir hom. Het hy dan nie die klere opgepas van diegene wat Stefanus gestenig het nie?
Maar Barnabas het vir ons ’n voorbeeld gestel: Hy het Paulus na die ander geneem en so ’n brug van vergifnis en herstel gebou – ’n daad van versoening en bemoediging vir ons as Christene.
Dit herinner ons dat ons nie alleen geroepe is om die Groot Opdrag uit te voer nie – maar ook om mekaar te vergewe en ’n omgewing van herstel te skep. Ons word geroep om eertydse vyande en vervolgers te omhels met genade en liefde.
LEES OOK | Elders gelees: Net ’n paar skrape toe boom op bakkie val
As ’n Christen-gemeenskap het ons ’n verpligting om uit te reik na andere en ’n verskil teweeg te bring deur vergifnis en herstel. Ons moet ’n omgewing skep waar mense veilig voel om hulle foute en sonde te bely en weet dat hulle genade en vergifnis sal ontvang.
Barnabas het Paulus verwelkom en gelei om ’n groot rol in die vroeëre kerk te speel. Laat ons dus nie net dissipels wees nie – maar mentors wat ander aanspoor om Christus te wees vir mekaar.
Kom ons omhels die krag van vergifnis en herstel ten volle, op persoonlike, gemeenskap en kerklike vlak. Kom ons wees ’n geloofsgemeenskap wat nie net oordeel en opponerende posisies inneem nie – maar liewers mekaar vind en saam ’n toekoms van reformasie omhels.
Laat Handeling 9:27 ons herinner aan hoe lief God ons het, en ons aanmoedig om sy liefde in ons onderlinge verhoudings te weerspieël. Mag ons ophou om die wêreld tevrede te probeer stel – maar eerder na mekaar in liefde uitreik en waarlik luister.
My bede is dat die vervolging van dolerende en behoudende kerke en lidmate sal stop en dat die kerkvaders waarlik sal luister na hulle pleidooie en ’n pad saam in eerbied aan die Woord sal stap.
Kom ons bid vir bekering en terugkeer na die Woord deur die kerk sodat ons mekaar kan vergewe.
Miskien moet ons net eers ‘n slag die (ander) waarheid ook in gierdie stryd stel: die NG Kerk se huidige standpunte is in die eerste plek Skrifgetrou en begrond – ek het nog geen behoorlike formulering van die beweerde waarhede van die Kairos Netwerk en enige dolerende gemeente onder oë gekry nie, na vele versoeke.
Dis feitlik uitsluitlik beweringe van “wêreldse” standpunte (m.i. oneerlike beweringe) en die gepaardgaande verdagmaking en gebruik van ongekwalifiseerde argumente wat die situasie tans in gevangenskap geneem het.
Ai toggie! Hoe is dit moontlik vir Muller Oosthuizen om so iets te se? Ek het al die besware vd Dolerendes so dikwels op so Baie plekke gelees dat Ek dit al met toe oe in my slaap kan herhaal. Die formele verklaring vd Strand Moeder gemeente was vir my vd beste en duidelikste. Miskien moet Muller dit op hulle webwerf gaan oplees. Asseblief en Dankie.
Muller Oosthuizen wys hoe maklik ons bymekaar verbypraat, of glad nie luister na enige ander standpunt sa my eie nie.
Ek vra dus net Muller se aandag vir ‘n paar sinne:
Van die AS se besluite, wat hy as deeglik begrond beskou, is gegrond op “wetenskaplike”feite, en/of, volgens “woke” beginsels, op die “belewenis” van die ontvangers van die boodskap.
Volgens die Belydenis van ons kerk, mag ons as Gereformeers slegs die Bybel, as onfeilbare bron van God se openbaring, as basis gebruik.
Die AS sal daarom een van twee opsies moet uitoefen: òf die besluite wat in stryd met die Bybel op die “wetenskap”en die “belewenis van ontvangers”gegrond is, moet herroep word, òf die die belydenis moet amptelik afgeskaf word.
Die NG Kerk is ‘n ruim huis. Maar daar is baie krake in die huis. Daar is egter ook minstens een ernstige struktuur bars wat dwarsdeur die fondament vd huis loop. Vir ‘n baie goeie verduideliking van die probleem luister na Dubois se videos op YouTube.
‘ Die woke virus in die kerk.’
Daar is ‘n verkorte en langer weergawe. Luister asb die langer een al neem dit ‘n paar sessies. In die laaste derde kom hy eers by die kern vd probleem oor Skrifgesag.
Nog ‘n video is :
‘ Aborsie is ‘n vrou se keuse.’
In hierdie video word die verskillende standpunte duidelik aan die hand van ‘n gespreksdokument van Atlas.
Ek beveel regtig hierdie aan. Dit wys hoe ernstig die struktuurbars deur die fondament van die NG ruim huis loop. Krake kan jy toe stop, maar struktuurbarste verg veel meer drastiese optrede.
Dankie Lucas van Vuuren vir ñ uiters sinvolle antwoord. Ek het albei Dubois du Toit se videos op Youtube onder die naam Dink Bybels deeglik deurgewerk en stem heelhartig saam.