Ds Maartje van der Westhuizen is Maandag verkies as ondervoorsitter van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Van der Westhuizen is predikant by NG Elarduspark (Oostelike Sinode) en was in die onlangse termyn lid van die Algemene Sinode Moderamen (ASM). Ds Jan Lubbe is vroeër verkies as voorsitter van die Algemene Sinode.

In aanloop tot die Algemene Sinode het Kerkbode onder andere vir haar gevra wat sy geleer het uit gesprekke wat die ASM gevoer het met afgevaardigdes van gemeentes wat hulle bekommernis wou lig rondom die 2019-besluit oor selfdegeslagverbindtenisse.
Hierop het Van der Westhuizen twee lesse uitgelig wat sy geleer het:
- “Dit is belangrik om te onthou dat die mense met wie jy in ’n gesprek is, maak nie saak aan watter kant hulle van watter debat is nie, ook mense is. Hulle is mense wat lief is vir die Here en wat ernstig is oor hulle geloof in God. In baie van die gesprekke het ek beleef dat mense mekaar reduseer tot hulle standpunte oor die selfdegeslagdebat en dan vergeet dat die ander persoon ’n medegelowige is. Tog was daar ook soveel mooi oomblikke waar mense mekaar kon vind, saam bid, Bybel lees en waar verhoudings sterker geword het.
- Almal van ons wat aan hierdie moeilike gesprekke deelneem moet aanhou vashou aan die vrug van die Gees, waaroor Galasiërs 5:22-23 praat. Dát ons verskil is nie noodwendig die grootste uitdaging nie. Hoe ons met mekaar verskil kan ons grootste getuienis word.”
Lees meer HIER
Geborg
