Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Philip Coetzee van die Strand skryf: “Woke theology seeks to attack and replace tenants of evangelical theology” (TheosU 2025/01/27).
Wokeism is ’n doktrine wat, soos ’n dief in die nag, ons wil verwyder van ’n Bybelse Godsbegrip en dit vervang met ’n postmodernistiese Godsbegrip gelykvormig met ’n sosialistiese wêreldbeskouing. Dit word gedryf deur liberale, humanistiese en sosialistiese denkers met ’n postmoderne visie van ’n veranderlike Godsbegrip, ’n visie van ’n alomvattende Geestelike lewe sonder die volle waardes en riglyne soos in die Skrif vervat. Met ander woorde, dit is ’n aggresiewe “geloofskanker” wat jou geloofsoortuigings en waardesisteme sal vernietig en jou los met verlore geloofsidentiteit en integriteit. Ed Young (2022) stel dit as volg:
“Woke” is an authoritarian worldview that seeks to deconstruct the foundations of our Christian faith by overwhelming, overpowering, and overthrowing those who do not adhere to its ideology.’
Die hoofdoel van wokeism is ’n “everything goes” en lekkervoelkonsep sonder “onnodige” geloofsbande wat jou doen en late aan bande mag lê en ’n gewetelose rustige geestelike lewe sal skep. Hulle poog om die hart van Christus en die Kruis uit te skeur en te vervang met ’n nuwe vergifnisstelsel. Dus, ’n stelsel waar verskeie absolutes (dit wat in die Skrif opgeteken is en vir altyd geld) opsioneel is en nie toegepas hoef te word nie, maar slegs relevant is tot die tyd waarin dit geskryf is. Byvoorbeeld, huwelike tussen een man en vrou asook Jesus se maagdelike geboorte is taboe; die Hel, en Satan kan beskou word as fiksie. En God se skeppingsverhaal in Genesis is ’n mite. Dus, die daarstel van ’n meer vloeibare kerk wat die wêreld omarm, en meer buigsaam en toegeeflik is volgens jou eie Godsbegrip en geloofsoortuigings.
Wat nou gemaak? Waak teen dwaalleraars wat “wol oor ons oë probeer trek”, want anders kan ons ons maklik in ’n bodemlose gat bevind waar die ewige duisternis ons voorland is, soos die Leviete in Numeri 16. Hulle het teen God gerebeleer en is deur die aarde verswelg en het ’n ewige dood gesterf.
