Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Albin Bowler van Bellville skryf:
Die SA Raad van Kerke se verklaring van 12 Januarie 2024 prys die ANC-regering se besluit om Israel by die Internasionale Geregshof van volksmoord in Gasa te beskuldig.
Die nie-optrede in ander oorloë toon juis dat die SARK bestaande internasionale meganismes en protokolle slegs toepas wanneer dit polities korrek en gerieflik is.
Enkele feite van drie oorloë:
- Die Israel-Gasa oorlog
In die periode 7 Oktober 2023 tot 6 Oktober 2024 sterf 45 000 mense in Gasa, hoofsaaklik vroue, kinders en ouer persone. Beide die ANC-regering en SARK praat van volksmoord.
Voor die 7 Oktober-inval, was daar ongeveer 9,2 m inwoners in Israel. Hiervan was 2,2 m Palestyne in Gasa, amper 3 m Palestyne in die Wesoewer en meer as ’n halfmiljoen Palestyne wat in die res van Israel tussen die Joodse Israeli’s woon in stede soos Haifa, Tel Aviv, ens. Hierdie laaste groep staan ook bekend as Arabiese Israeli’s. Sommige van hulle dien selfs in die Israelse weermag (IDF).
Twee vrae duik op:
- Indien volksmoord gepleeg word, hoekom is daar geen aanvalle waarin derduisende mense omkom in die Wesoewer of die ander gebiede nie?
- b. Hoekom net in Gasa waar Hamas regeer?
- Rusland-Oekraïne oorlog
Die oorlog duur al drie jaar. Ongeveer 138 000 Oekraïnse burgers, dws soldate, vrywillige burgers wat veg, vroue, kinders en ouer persone het reeds in die oorlog gesterf (gemiddeld 46 000 mense per jaar).
Twee vrae:
- Hoekom het die SA regering nie ook ’n internasionale hofsaak teen Rusland ingedien nie?
- Hoekom het die SARK nie ook ’n verklaring opgestel om dié oorlog te verdoem nie?
- Soedanese konflik
Op 15 April 2023 het die Rapid Support Forces (RSF), ’n etniese Arabiese militia, die Soedanese Weermag (Sudanese Armed Forces of SAF) se basisse regoor Soedan, insluitend Khartoem en lughawe, aangeval.
Die burgeroorlog in Soedan het die afgelope twee jaar altesaam 150 000 burgerlikes gedood. Meer as 11 m mense het uit hulle huise gevlug.
Die SAF speel ’n dominante rol in die Soedanese politiek en het al militêre staatsgrepe uitgevoer. Tans regeer die SAF die land na ’n staatsgreep. Die konflik handel oor die integrasie van die RSF in die SAF om ’n oorgang na ’n burgerlike regering te beplan.
’n Mens kan met reg vra hoekom het die SARK nie ook ’n verklaring opgestel om dié oorlog te verdoem nie, veral weens die groot getalle sterftes, ontheemdes en hongersnood?
De SARK steun die ANC-agenda, pleks om ’n konsekwente profetiese rol te vervul!
Die NG Kerk het in 2008 volwaardig aangesluit by die SARK, oa om ’n rol te speel by breër ekumeniese gesprekke in SA.
As lid van die SARK word NG predikante geïmpliseer as passiewe ondersteuners van politieke korrektheid wat die ANC-regering napraat.
Gaan ons die SARK of die ANC-regering teregwys op hulle inkonsekwente, onbybelse en liefdelose optredes?

