Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

15 Junie: Bewusmakingsdag vir die mishandeling van ouer persone

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Albin Bowler van Bellville skryf: Daar is ’n skerp fokus in Suid-Afrika op die skending van menseregte op grond van ras. Baie min aandag word gegee aan die mishandeling van ouer persone as ’n skending van hulle menseregte.

Die mishandeling van ouer persone kom wêreldwyd voor. Sedert 2006 word jaarliks ’n dag afgestaan om gemeenskappe daarvan bewus te maak.

Hierdie bewusmakingsdag word elke jaar op 15 Junie herdenk – eerskomende Sondag. Die dag is in Desember 2011 deur die Verenigde Nasies amptelik erken. Daarmee probeer hulle nie net bewusmaking skep van die mishandeling en verwaarlosing van ouer persone nie, maar spreek hulle ook hulle skerp teenkanting daarteen uit.

Die soort mishandeling is eers taamlik onlangs amptelik erken as ’n euwel. Navorsing oor die mishandeling en verwaarlosing van ouer persone het die afgelope 25 jaar in onder meer Europa, VSA, Australië en die Midde-Ooste die erkenning gekry wat dit verdien. Suid-Afrika is ongelukkig ver agter met bitter min statistiek en navorsing oor dié onderwerp.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) raam dat ongeveer 6% van alle persone ouer as 60 jaar wêreldwyd mishandel of verwaarloos word. Ons beste skatting is tussen 6 000 en 18 000 van ouer NG lidmate word jaarliks mishandel.

Die WGO beskryf mishandeling, uitbuiting of verwaarlosing van ouer persone as “enige onvanpaste gedrag wat ouer persone benadeel en spanning of stres by hulle veroorsaak. Die mishandeling kan ’n enkele voorval wees of ’n gereelde handeling.”

Mishandeling sluit ook die nalaat van gepaste optrede in enige situasie in waar daar ’n verwagting is van respek en dienslewering.

Die volgende soorte mishandeling word onderskei:

  • Fisieke mishandeling, bv om ouer persone met voorwerpe te gooi.
  • Om hulle te stamp; te slaan; eintlik enige fisieke geweld wat beserings veroorsaak.
  • Moord op ouer persone (“eldercide”) is uiters kommerwekkend in Suid-Afrika.
  • Dit is daarom tyd dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens met die uitreiking van hulle moordsyfers begin aandui hoeveel van die slagoffers ouer as 65 jaar is.
  • Emosionele of sielkundige mishandeling, bv om ouer persone skeldname toe te voeg.
  • Aanhoudende kritiek.
  • Dreigemente.
  • Om ouer persone te ignoreer en van sosiale aktiwiteite te ontneem.
  • Ook om ouer persone te isoleer van familielede en vriende.
  • Seksuele mishandeling, bv verkragting; onvanpaste naaktheid voor ouer persone; om ouer persone sonder toestemming naak te fotografeer; of om naakfoto’s aan hulle te wys.
  • Finansiële mishandeling (enige geldelike of materiële uitbuiting van ouer persone), bv om sonder hulle toestemming kontant te onttrek.
  • Ongemagtigde gebruik van hulle kredietkaart en/of hulle SASSA-maatskaplike toelaes.
  • Verwaarlosing deur versorgers (tuis of by ’n versorgingsoord).
  • Selfverwaarlosing.

Bowler is betrokke by senior bediening. Hy fokus op veerkragtige veroudering en faktore wat dit belemmer soos trauma, ouderdomsdiskriminasie (ageism) en mishandeling van ouer persone.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top