Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: As jou Pinkstersop bitter word

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: In Kerkbode van 11 Junie 2025 kla ds Riaan de Villiers dat sy Pinkstersop so ’n bietjie bitter word “omdat ’n handvol lidmate en gemeentes” nou aankondig dat hulle hulle afskei van die liggaam van Christus “omdat die NG Kerk selfdegeslagverbintenisse erken en gay leraars in verbintenis in die amp toelaat.”

LEES OOK: Brief: Waaroor het Jesus wél gepraat?

As ons egter by die feite bly dan is dit nie nodig om bitter sop te drink en dit ook vir ander lesers te skink nie.

  • Ek weet nie van een gemeente wat wil afskei van die liggaam van Christus nie.
  • Ek weet wel van leraars wat al so afvallig geword het dat hulle die Roomse dwaling aanvaar deur te dink dat slegs gemeentes wat struktureel aan die Algemene Sinode verbind is, die enigste gestalte van die liggaam van Christus is.
  • Ek weet nie van dolerende gemeentes wat, soos hy suggereer, hulle sinodale bydraes terughou om dit soos Ananias en Saffira in hulle eie sakke te steek nie.
  • Ek weet wel van verskeie gemeentes wat biddend besluit het om nie langer finansiële ondersteuning te gee aan die kerkvergaderings wat dwaalleer ondersteun nie.
  • Ek weet dat die meeste dolerende gemeentes verkies om hulle sinodale bydraes liewers direk vir sending en barmhartigheid aan te wend deur projekte waar die evangelie suiwer verkondig word.
  • Ek weet nie van ’n enkele deel in die Bybel waar Jesus ’n gay-huwelik goedgepraat het soos wat ds Riaan by implikasie beweer nie.
  • Ek weet wel van verskeie plekke waar Jesus die heiligheid van die huwelik beklemtoon soos wat God dit van die begin af ingestel het, as ’n heilige verhouding tussen een man en een vrou. Markus 10:6-9. Sien ook Genesis 2:18-25; Matteus 19:4-6; 5:27-28.
  • Ek weet dat Jesus se woorde nooit in stryd is met die res van God se Woord nie en dat talle ander tekste die heiligheid van die huwelik en seksuele omgang slegs tussen man en vrou bevestig – geen selfdegeslagverhoudinge nie.
  • Ek weet ds Riaan suggereer herhaaldelik dat die dolerende gemeentes wat hulle sinodale bydraes weerhou die eintlike krisis in die kerk ignoreer soos : “… ongelykheid, geslagsgebaseerde geweld en chroniese armoede … Kinders stap kilometers skool toe sonder kos; … bendegeweld; … die gaping tussen ryk en arm.”
  • Ek weet nie van dolerende gemeentes wat een van daardie krisisse ignoreer nie, en ek weet ook nie waar Jesus hierdie krisisse kwansuis hoër ag as die kerk se roeping om ook die draer en beskermer van die waarheid te wees nie.
  • Ek weet dat dit juis Judas is wat vir Maria gekritiseer het omdat sy haar liefde vir Jesus bo die nood van die armes gestel het: “Waarom is hierdie reukolie nie vir 300 silwer-muntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” Johannes 12:5.
  • Maar ek weet ook nie of ’n kerk wat self sit met vaste beleggings van sowat honderd miljoen, kan vinger wys na gemeentes wat soms kies om Maria se voorbeeld te volg nie.
  • Een ding weet ek wel: As jou Pinkstersop begin suur word, maak eers seker jou vinger wys in die regte rigting.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Brief: As jou Pinkstersop bitter word”

  1. Dankie vir Theo Danfuss se kommentaar op ds Riaan se gay huwelike. My vertrekpunt is dat gay persone ook my naaste is en ek hulle nie kan veroordeel nie – net God kan en sal. Wat gay huwelike egter betref, dink ek dis n gruwel in God se oë om die volgende redes: 1> Waar in God se Woord word gay huwelike pertinent erken? 2> In Gen 2v18 skep God spesifiek n vrou vir n man – nie n ander man nie, of n man vir n man, of n vrou vir n vrou nie. 3> In Gen 2v24 sê God die man sal sy ma en pa verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word. Daardie heilige verhouding is n huwelik deur God ingestel. 4> In Matt 19v6 sê Jesus hulle is nie meer 2 nie, maar 1 wat God saamgevoeg het. God het nie gays in n huwelik saamgevoeg nie. Gevolgtrekking: geen mens/leraar het die gesag van God gekry om God se man/vrou huweliksverhouding uit te brei (of uit te tart) met n man/man of vrou/vrou huweliksverhouding van intieme eenwording nie.

  2. Matthys Steyn

    Die aanvaarding van “gay predikante in verbindtenis” op die kansel stuit my ook teen die bors.

Comments are closed.

Scroll to Top