Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

As ons as dissipels van Christus funksioneer, sal ons weer die klanke hoor van Handelinge 5:13: “… die volk (het) hoë agting vir hulle gehad”.

Brief: Ons moet ons van ons bekering bekeer

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Petrus Kriel van Levubu skryf: Die NG Kerk soos deur sy bemagtigde leiers verteenwoordig, wil nog steeds sogenaamde profete teen die sonde van rassisme van apartheid wees. ’n Ideologiese mag wat in 1994, 30 jaar gelede, beëindig is.

Hierdie bemagtigde leiers is egter doodstil oor die rassisme in die ideologie van die huidige regering dat elke openbare instelling die rasprofiel van die land moet weerspieël – die grondslag vir die nuutste rassistiese wet op indiensneming vir besighede. Die NG Kerk het sondebelydenis en bekering van die rassisme van apartheid geëis en doen dit nog steeds gereeld, maar is in sy leierskap totaal stil oor die sondige rasse-ideologie van die regering.

Hierdie teenstrydigheid wys wat die werklike bedoeling van die NG Kerk se leiers met die oorgang na ’n nuwe staatsbedeling was – dit was om in die nuwe politieke bedeling weer die mag van die nuwe magshebbers te deel en om nie meer met die mag wat hulle voor dit verteenwoordig het geassosieer te word nie. Dit was nie die Christelike bekering weg van rassisme na die Here Jesus Christus nie. Dit was die wegkeer van een vorm van rassisme na ’n ander vorm van rassisme, van ’n ontmagtigde ideologie na fasiliteerders van ’n nuwe bemagtigde ideologie. ’n Ideologie wat as basis dien vir ongeveer 140 rassistiese wette van die huidige regering teen die Afrikaanse gemeenskap wat die NG Kerk bedien. Teen hierdie sonde is daar nie profete nie.

Die spirituele hart van die NG Kerk se bemagtigde leiers is om met God se mag te identifiseer – wat hulle sedert die 1860’s se Pinksterbekerings as die vervulling met God se krag, mag, wil en lewe, glo en leer.

Binne hulle identifikasie met God se mag het hulle hulleself net weggekeer van ’n uitgediende mag na die nuwe mag in die land – om so weer God se mag in die land te verteenwoordig. Waarvan hulle hulle nie bekeer het nie was hulle magsbekering – die Pinkster- en seremoniële bekering om jouself aan die mag wat jou bedreig oor te gee. In hierdie soort bekering moet jy tot “oorgawe kom” aan die dreigende en oorweldigende magtige liefde van God en aan hulle wat sy liefdevolle mag verteenwoordig. Hierdie “oorgawe” is nie geloof in Jesus Christus nie. Van hierdie bekering het die NG Kerk se leierskap homself nie bekeer nie. Dit was hulle spirituele mag in die apartheidsbedeling en is nog steeds hulle spirituele mag waardeur hulle die nuwe rasse-ideologie van die huidige regering fasiliteer.

Oorgawe van jouself aan mag is nie diensbaarheid in die vryheid van ’n offerlose geregtigheid en heiligheid voor God nie. Selfopoffering aan die mag van God en die magtiges, is nie ’n Christelike bekering nie. Ons moet ons bekeer van hierdie bekering wat die NG Kerk bedien – ’n bekering wat teen sy eie geloofsbelydenisse is.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top