Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Met haar vinger wat wys na die eerste portret het Marianna de Jager (79), een van ons groep, uitgeroep: “Daar is my oupa!” Sy is die kleindogter van ds AA Louw, die jong man met brose gestel wat in 1891 sy ossewa uitgespan het waar Morgenster vandag staan met skole, kolleges en ’n hospitaal. Langs haar is Susan Murray. Foto: Royal Pictures

Kyk | Sendinglied klink op toe pioniers se nasate na Zim terugkeer

 

Morgenster was eens ’n NG sendingstasie, maar is deesdae sentraal tot die bediening van die Reformed Church of Zimbabwe (RCZ). Heléne Meissenheimer berig vanuit Zimbabwe oor die dag in November vanjaar toe ’n groep Suid-Afrikaners met sterk sendingbande tussendeur lofsange in ’n volgepakte kerk die Sendinglied in Afrikaans gesing het.

Ons groep van dertien se besoek het saamgeval met die feesnaweek beplan rondom die Murray Teologiese Kollege op Morgenster se 100 bestaansjare. Almal van ons het direkte familieverbintenisse gehad met sendelinge wat in hierdie gebied gewerk het. So, dit was ’n besondere oomblik toe ons ’n vertrek besoek waar die portrette hang van al 13 kollege-prinsipale oor die afgelope eeu. Agt vanuit die NG Kerk en vyf uit die RCZ.

Dr Simbarashe Munamati, ’n oud-student en prinsipaal sedert 2021, het ons vertel wie elkeen van die prinsipale was. Hy het verduidelik hoe die eerste RCZ-prinsipaal moes oorneem tydens die bevrydingstryd in die laat 1970’s omdat die NG sendelinge toe deur die kerk teruggeroep was. Met haar vinger wat wys na die eerste portret het Marianna de Jager (79), een van ons groep, uitgeroep: “Daar is my oupa!” Sy is die kleindogter van ds AA Louw, die jong man met brose gestel wat in 1891 sy ossewa uitgespan het waar Morgenster vandag staan met skole, kolleges en ’n hospitaal.

Een van die kollege se prinsipale was dr Willie van der Merwe (links). Hy was eers sendeling op Alheit, ’n kleiner sendingstasie en dit was hier wat sy Chev een Sondag vasgeval het terwyl hy op pad was huis toe. Hy moes die nag in sy kar slaap en so in sy alleenheid skryf hy toe die woorde van die gedig “Ek wil sing van Jesus’ liefde”. Saam met hom op die foto is sy vrou, Heleen en van hulle kinders, Helena en Mientjie. Foto: Verskaf

Susan Murray was ons toerleier. Sy is die weduwee van ds Henry Murray (2006-2011 prinsipaal en vise-prinsipaal 2011-2014). Dit was haar versoek dat ons op Sondag die Sendinglied in die kerk kon sing. My eie ma, Mientjie Uys (86), het vooraf in vlot Shona vir die gemeente die lied se storie en betekenis vertel. Sy het vertel hoe haar pa, dr Willie van der Merwe, terwyl hy sendeling was op Alheit, ’n kleiner sendingstasie, een Sondag in die moeilikheid beland het. Sy Chev het in ’n drif vasgeval terwyl hy op pad was huis toe. Hy moes die nag in sy kar slaap en so in sy alleenheid skryf hy toe die woorde van die gedig “Ek wil sing van Jesus’ liefde”. Dit is later getoonset op “I will sing of my Redeemer” en die Sendinglied genoem, wyd bekend in Suider-Afrikaanse kerkkringe.

  • Die RCZ het op die Saterdag die rooitapyt behoorlik uitgerol vir hierdie feesgeleentheid. Daar was trompoppies en kore, ook die Copota Skool vir Blindes se marimba band. Vreugdevol is gemarsjeer en gesing vir by die drieduisend mense vanuit RCZ-gemeentes van regoor die land. In die toesprake van eregaste soos dr Daniel de Wet van die NG Kerk se Getuienisaksie en die RCZ moderator, dr Ezekiel Baloyi, het ons gehoor hier is beide ’n nalatenskap én ’n toekoms wat gevier word. Morgenster en die kollege word gesien as die geboorteplek van hierdie NG susterkerk met haar meer as 1 miljoen lidmate. Die eerste Bybel in Shona het ook hier verskyn. Meer oor die dag en meer foto’s op Teologiese kollege met NG wortels in Zim se eeufeesviering kyk beide vorentoe en terug
Die RCZ het op die Saterdag die rooitapyt behoorlik uitgerol vir hierdie feesgeleentheid. Daar was trompoppies en kore, ook die Copota Skool vir Blindes se marimba band. Foto: Royal Pictures
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top