Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Marnette van Rensburg skryf: Uit Pearly Beach het die behoefte gekom om ’n geleentheid te skep vir gebed vir ons land voor die verkiesing op 4 November. Ons hoor gereeld dat mense sê dat net God ons land kan red. Terwyl ons weet God is nie ’n towerstaffie wat ons kan swaai nie, weet ons ook dat Hy self ons roep tot gebed. “Maak alles deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend”, leer Paulus ons.
2 Kronieke 14:12-16(2020) “Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My gekies as ‘n tempel vir offers. 13 As Ek die hemelruim sluit, sodat daar geen reën is nie, of as Ek die koringkrieke opdrag gee om die land kaal te vreet, of as Ek ‘n pessiekte onder my volk loslaat, 14en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, en my teenwoordigheid opsoek en terugdraai van hulle verkeerde paaie, sal Ek self uit die hemel hulle hoor. Ek sal hulle sonde vergewe en hulle land genees. 15 My oë sal nou oop wees en my ore sal aandagtig luister na die gebede uit hierdie plek. 16So het Ek dan nou hierdie tempel gekies en geheilig, sodat my Naam vir altyd daar sal wees. My oë en my hart sal altyd daar wees.”
Ons sal graag wil hê dat almal wat hulself Christene noem, deelneem aan hierdie geleentheid. Dit hoef nie almal op dieselfde dag te wees nie.
Versprei asseblief die versoek na alle denominasies en groepe waarvan jy weet.
Daar sal binnekort ’n voorstel volg van hoe die liturgie vir so ‘n geleentheid kan lyk, om dit makliker te maak vir besige mense.
