Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gerhard Ferreira van Johannesburg skryf: Die nuwe King V-kode van goeie bestuur is effektief vir jaareindes wat op of na 1 Januarie 2026 begin. Alhoewel die term “rentmeesterskap” nog nooit in die kodes verskyn het nie, vereis King V nou eksplisiete bewyse van kerkrade, ringe en sinodes dat daar aan ’n duidelike visie, strategie en volhoubare toekomsplanne voldoen word.
God het ons immers as Sy beelddraers geskape om Sy skepping getrou te bestuur. Hierdie rentmeesterskap is nie ’n bloote behouding van bates nie, maar ’n roeping tot groei, leierskap, visie vir die gemeente en sendingskap. Dit raak die kern van hoe ons as die liggaam van Christus funksioneer.
Wat is ons fidusiêre pligte?
Fidusiêre pligte beteken dat die kerkraad in ’n vertrouensposisie teenoor die gemeente as regsentiteit staan. Kerkrade bestuur nie hul eie besittings nie, maar die Here se goed: die geestelike bediening, finansies, eiendom en die welstand van die gemeente. Dit vra lojaliteit aan Christus, deursigtigheid en die vermyding van enige konflik van belange.
Aangesien die meeste gemeentes as Openbare Weldaadsorganisasies funksioneer, geniet gemeentes belastingvoordele, maar dra ons ook ’n hoë verantwoordelikheid om ons getuienis onberispelik te hou. Sedert 2006 verwys Suid-Afrikaanse howe toenemend na die King-beginsels om die fidusiêre pligte van bestuursliggame te beoordeel. King V is dus ’n praktiese maatstaf vir die kerk om te verseker dat ons leierskap sterk en ons sendingskap volhoubaar bly.
Hoe lyk ’n gesonde gemeente in die praktyk?
Wanneer ’n kerkraad sy roeping en die King V-beginsels ernstig opneem, weerspieël die gemeente die volgende eienskappe:
– Kundigheid en assessering: Die beste moontlike persone moet dien en hul insette moet jaarliks beoordeel word. Konflik van belange word pertinent bestuur—as dit ’n leraar raak, moet hy hom onttrek en word ’n konsulent betrek. ’n God van orde.
– Deursigtigheid: Sonlig is die beste ontsmettingsmiddel. Finansiële en bestuursverslae word met openheid gedeel sodat lidmate met vertroue kan bydra.
– Vry van selfsug: Besluite word uitsluitlik geneem met die oog op die koninkryk, sonder persoonlike of finansiële belang. ’n Konflik van belange is soos Prediker 7:7 bedoel “vernietig die goeie oordeel” en maak sulke besluite waarskynlik nietig.
– Leierskap met visie: Die kerkraad lei met ’n strategiese, Bybelse visie wat die gemeente help om sowel binne as buite die kerkgebou se mure te groei.
– Volhoubaarheid: Hulpbronne word so bestuur dat die bediening floreer en nuwe mense na Christus lei.
’n Voorsienbare toekoms
Gemeentes moet ’n toekomsvisie en vooruitskattings deel maak van elke vergadering. King V is nie bloot ’n administratiewe “tick box”-oefening nie, maar deel van ons oorspronklike roeping.
Vra by elke besluit: “Dien hierdie die Koning, sy koninkryk en ons visie?” Die Here se goed is aan Kerkrade toevertrou en daar moet met integriteit bestuur word tot Sy eer, soos Kolossense 3:23 beveel.
